Oud en jonk het Saterdag luilekker uitgespan by Maroela Media se fliekpiekniek wat by Monte De Dios in die ooste van Pretoria aangebied is.
Te midde van die Covid-19-pandemie het fliekgangers hul komberse gesprei en aan happies gesmul wat deur Monte de Dios se restaurant Cara Bella voorberei is.
Terwyl besoekers hul sitplekke in die amfiteater ingeneem het, het Franja du Plessis en Jak de Priester gesorg vir heerlike Afrikaanse musiekvermaak.

Susan Lombaard en Luan Jacobs by Maroela Media se fliekpiekniek (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
Franja het die dag afgeskop met liedjies soos “Ek wil lewe” en “Kaalvoetkinders” en Jak het gehore vermaak met van sy gewilde treffers waaronder “Sally Williams”, “Hugo, bel die polisie” en “Sny dit af”.
Fliekgangers het teen 17:00 reggeskuif vir Dominee Tienie en om 19:00 is die immergewilde Katinka Heyns-rolprent Die storie van Klara Viljee vertoon.
Luan Jacobs, wat die rol van die predikantseun in Dominee Tienie vertolk, was die gasheer van die geleentheid.
“Dit is verfrissend om weer uit te kom en geleenthede by te woon,” sê Luan. “As kunstenaar het dit amper gevoel asof ek weer by die huis is.”
Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sê dit was vir dié mediahuis belangrik om ʼn geleentheid te skep vir mense om in die oop lug en in Afrikaans te kuier. Sy voeg by dat dit ook van uiterste belang is om die Afrikaanse vermaakbedryf te ondersteun.
“Maroela het groot waardering vir Afrikaanse kunstenaars en die vermaakbedryf. Die fliekpiekniek was die perfekte geleentheid om saam te kuier én die bedryf te ondersteun.”
Lombaard doen ʼn beroep op lesers om kunstenaars te ondersteun wanneer hulle die geleentheid het om dit te doen.
- Kobie van der Merwe, Micke van der Merwe, Magda Botha en George Botha kuier lekker by Maroela Media se fliekpiekniek (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- Jacques, Henrico en Amelia Silvis by Maroela Media se fliekpiekniek (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- Gawie en Esmé Nel by Maroela Media se fliekpiekniek (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- Adele de Klerk, Herman Rens het kaartjies gewen vir Maroela Media se fliekpiekniek (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- Vena Strauss en Venamarie Coetzee klink ‘n glasie by Maroela Media se fliekpiekniek (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
- Franja du Plessis het gesorg vir heerlike Afrikaanse musiekvermaak. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
2 Kommentare
Dis hoendervleis lekker!
Baie dankie, Maroela Media!! Ek stem saam met Cecilia. Dit was hoendervleis lekker. Hoop julle doen gou weer so-iets. Daar is baie van ons vriende wat graag wil saamkom.