Musiekduo Esmé & Steyn tref met sielvolle snit

Die musiekduo Esmé & Steyn se debuutenkelsnit, “Winterkaap”, is einde Julie uitgereik.

Die musikante Esmé Fox en Steyn de Wet het mekaar vroeër vanjaar by die Gifberg Spook-musiekfees op Vanrhynsdorp ontmoet en kort daarna is die musiekduo Esmé & Steyn geskep.

Dié duo se debuutenkelsnit, “Winterkaap”, is einde Julie uitgereik. Steyn het die liedjie geskryf en sê dit beskryf iets wat mense gereeld voel, maar sukkel om van sin te maak.

“Dit is die enigste teenvoeter vir eensaamheid, om afgesonder te voel in jou situasie, maar te weet dat jy nie die enigste een is wat so voel nie,” sê Steyn.

Steyn is bekend vir liedjies soos “Maanligwandelaar” en “Songs van verliefde mense”, en word deur kritici en ander liedjieskrywers vergelyk met Koos du Plessis en Leonard Cohen.

Sy debuutalbum getiteld Kyk maar mooi is in 2013 uitgereik. Steyn vertel meer oor sy ontmoeting met die blondekop-sangeres met die rasperstem:

“Die laaste vertoning van die Vrydagaand het tot ʼn einde gekom en die meeste feesgangers het die tog terug na hul tente toe aangepak, maar vir die bloubaard-musikante en musiekliefhebbers het die grootste lekkerkry van die fees juis daar begin.

“Soos met alle vorige jare, het ʼn impromptu akoestiese vertoning ‘uitgebreek’ op die stoep van die huis waar die meeste van die musikante tydens die fees gebly het. Wat op dié stoep saak maak, is dat jy saam met die ander bittereinders jou hart op jou mou dra,” vertel Steyn laggend.

“Esmé het na die fees toe gekom as ʼn toeskouer, maar sy het gelyk soos ʼn rocker en het gewis ook die gepaardgaande houding gehad. Soos wat die kitare en geleentheid om jou ding te doen in die groep omgegaan het, was sy duidelik angstig vir haar beurt.

“Toe die kitaar en geleentheid uiteindelik hul weg gevind het tot by haar, het sy nie net die stoepmusikante verstom nie – sy het sonder skaamte laat loop en ʼn magiese kombers van klank en gees oor die ganse Gifberg Spook-tentedorp laat rus. Die volgende dag wou almal by die feesbaas, Herman Kleinhans, weet wie die stem in die nag was.”

Teen Saterdagmiddag was dit bepaal dat sy die aand ʼn vertoning van haar eie op die hoofverhoog sou lewer.

Esmé Fox (die verhoognaam van Esmé de Vos) is ʼn blues-rock-sangeres en liedjieskrywer. Al is sy nuut op die Afrikaanse musiektoneel, is sy geen vreemdeling op die verhoë van Suid-Afrika nie. Dié vurige musikant met haar waaghalsige blues-rock-sangstem het sedert sy 16 jaar oud was in verskeie musiekgroepe opgetree.

“Al wanneer ek werklik vol selfvertroue is en springlewendig voel, is wanneer ek die ding doen waarvoor ek die liefste is en die meeste passie het – om op die verhoog te staan en sing, en ʼn gedeelte van my siel en storie met mense kan deel.”

“Winterkaap” is tematies sterk beïnvloed deur een van Steyn se gunstelingliedjies, Anton Goosen se “ʼn Brief vir Simone”.

“Dit is een van my gunsteling- Afrikaanse liedjies van alle tye, en dit is tipies van ʼn man om amper alles te beskryf behalwe dít wat werklik in sy hart aangaan. Vir Goosen was dit Hillbrow, vir my was dit die ‘Winterkaap’ rondom my,” verduidelik Steyn.

Esmé en Steyn tree gereeld op. Hier is hulle saam met Ryno Velvet en Jan Blohm. (Foto: Facebook)

‘’Die eerste helfte van hierdie jaar was ʼn uitdagende tyd in my lewe: ek is deur ʼn egskeiding, my doktorale studie het tot ʼn einde gekom, so ook die kontrak vir die werk wat ek in daardie stadium gedoen het. Intussen het nuwe mense en moontlikhede deel geword van my lewe, maar sonder dat enigiets of enigiemand vir my ʼn mate van vaste grond onder my voete gegee het,’’ verduidelik Steyn.

‘’Ek het verkeerdelik gedink – tussendeur die half-wakker en half-slaap – dat dit die laaste dag van die herfs was en dat ek oor die draai van die seisoen wakker gelê het. En dit was uit die aard van die saak metafories van my eie lewe, dat daar ʼn seisoensverandering was ná ʼn harde winter.”

“Winterkaap” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.