Musiekduo laat die legkaartstukkies pas

Werner van der Merwe en Anrich Gericke. (Foto: verskaf)

’n Kaapse musiekduo, Legkaart, wil Suid-Afrikaners se harte aan die brand tokkel met sy splinternuwe enkelsnit “Ek is daar”.

Werner van der Merwe, ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch, en Anrich Gericke, ’n student in fisioterapie, het hul oë en drome gerig op ’n snoesige plek in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf.

Gericke, wat ook onlangs ’n draai op die gewilde talentsoekprogram Die Kontrak as Demi Lee se keuse gemaak het, het eers op 19 sy liefde vir musiek gevind. Die groep het ook later vir Demi-Lee geopen.

Wat begin het as ’n universiteitsmodule wat hy gedruip het, het die begin van sy liefde vir musiek geword.

“Ek het heelwat tyd op hande gehad. Ek het geleer hoe om kitaar te speel en deel van die koshuisserenade geword. Dis tóé dat ek besef dat ek musiek wil nastreef,” het Gericke aan Maroela Media vertel.

Van der Merwe en Gericke se paaie het gekruis toe hulle saam in die Hippokrates-serenadegroep was. Die musiek wat uit die vriendskap voortgevloei het, was ’n spontane nagevolg.

“Ons werk regtig goed saam en vul mekaar goed aan,” het Van der Merwe vertel.

Die nuwe enkelsnit, wat oor ’n liefdesteleurstelling weens emigrasie gaan, is deur Gericke geskryf. Van der Merwe beskryf sy musiekmaat as die “liriese genie” agter die liedjie, terwyl hy self insae in die melodie daarvan gehad het.

“’n Paar van my persoonlike ervarings is in die liedjie geweef, maar die kern daarvan is die twee mense wat nie werklik van mekaar weg is nie, dit voel asof hulle steeds bymekaar is,” het Gericke gesê.

Hy vertel ook dat die kollig op sy musiekdrome helderder geword het toe hy en Gericke die duo gevorm het.

“Vroeër was musiek ’n stokperdjie, nou hoop ek dat dit ’n baie groot deel van my lewe word.”

Sy musiekdrome strook met dié van Gericke s’n, aangesien dié fisioterapeut graag sy toekoms met musiek wil vul.

“Ons sal steeds ’n dokter en fisioterapeut wil bly, maar ons wil graag baie van ons tyd aan musiek bestee,” het Gericke vertel.

Die musiekduo droom daaroor om ’n vollengte-album op te neem en met dié album die land plat te toer.

Luister na “Ek is daar” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.