Musiekvideo: Almero ‘altyd soekend, altyd op pad’

Almero. (Foto: Instagram)

Die jong musikant Almero het in 2018 sy debuut-vollengtealbum getiteld Maandag bekend gestel en het sedertdien nie ophou woeker in die musiekbedryf nie.

Dié musikant, skrywer, skilder en digter spog in sy kort loopbaan reeds met die titelsnit van ʼn vollengterolprent, Nul is nie niks nie, ʼn hele rits enkelsnitte én ʼn digbundel, Donderweer gedagtes.

Hy is ook deel van die Engelse musiekduo All New We en sy splinternuwe Afrikaanse vollengtealbum getiteld Junie het onlangs die lig gesien.

Die album bevat 20 snitte met titels soos “Macarthur Park”, “Ek voel iets nader kom”, “Junie en jou hande” en “As ons hier weggaan”.

Die musiekvideo vir die snit “O Hel” is pas bekend gestel en is vandag (Saterdag) eerste op Maroela Media te sien.

Almero (22) vertel die liedjie is verlede jaar tydens die inperking weens die Covid-19-pandemie in sy ouers se motorhuis by hulle huis in Bloemfontein vervaardig. Sy broer, Nico Welgemoed, het hom help skryf en skaaf aan die liedjie.

“Als aan hierdie liedjie was eienaardig: van die opnameproses, die ruimte en die tyd waarin dit gemaak is. Die liedjie is andersom as gewoonlik gemaak, aangesien ons eers die musiek geskryf het en toe die liriek en melodie. Ons het die klavier opgeneem die dag voor die eerste inperkingsdag aangebreek het.”

Almero en Nico het daarna vir die eerste vyf weke van die inperking verder aan musiek en video’s in hulle ouers se motorhuis in Bloemfontein gewerk. Hulle moes aan kreatiewe maniere dink om die musiek te vervaardig.

“Die lied sou aanvanklik net klavier bevat, maar iets van die liedjie het gevra vir meer instrumentasie. Buiten die strykinstrumente het Austin Hulme ook sy pragtige bydrae gelewer met elektriese kitaar. Die stemme het ons tussen twee matrasse opgeneem,” verduidelik Almero.

Die liedjie het gedien as ʼn groot vertrekpunt vir die album se tema, sê hy. “Ons afgelope twee jaar, sedert die verskyning van die eerste album, Maandag, was baie besig en vol beweging. Die inperking wat die wêreld tot ʼn skielike stilstand gebring het, het my die kans gegee om terug te dink oor die afgelope tydperk en iets daarvan te verwoord.

“Die lied kan opgesom word in die eerste lyn van die liriek: ‘Altyd op soek, al weer op pad’.”

Die musiekvideo is buite Gordonsbaai geskiet en beeld die lied visueel uit. “Ek bevind myself kort-kort op nuwe plekke met nuwe dinge om te ervaar, maar die begeerte om soms ʼn bietjie stil te raak en als te verwerk is ook daar.”

Nico het die videografie behartig. “Dit is, soos altyd, ʼn wonderlike ervaring om saam met hom kuns te kan maak,” sê Almero.

Junie is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “O Hel”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.