Musiekvideo: Daniel Eeuwrick vat die laaste trein

Daniel Eeuwrick se jongste musiekvideo is in Nederland geskiet. (Foto: Verskaf)

Die Ghoema-bekroonde musikant en argitek Daniel Eeuwrick het onlangs sy huis aan die Oos-Kaapse kus van Suid-Afrika verruil vir ʼn woonstel in die geskiedkundige De Gouden Heuvel-gebou in die stad Den Bosch in Nederland.

Eeuwrick, wat vir sy album Op die leë paron [sic] met ʼn Ghoema-musiektoekenning vir beste alternatiewe album in Afrikaans bekroon is, het sy jongste musiekvideo vir “Die laaste trein” in Nederland geskiet.

Rudi Muller van Topwatch Studios het die video vir die Suid-Afrikaanse gehoor verwerk.

Eeuwrick, wat veral bekend is vir sy glas- en sement- argitektoniese ontwerpe, het in middel Februarie vanjaar by die internasionale werwingsmaatskappy Tailorminds aangesluit, waar hy onder meer by die konstruksie van farmaseutiese geboue betrokke is.

“Ek moes die eerste tien dae in kwarantyn deurbring. Alles was gesluit en die Nederlanders het ook ʼn aandklokreël gehad. Ek praat met niemand hier nie – ek kon nie vorentoe of terug nie, ek kon nie uit my huis uit nie en niemand kon by my kuier nie. Ek was in niemandsland.”

“Die Laaste trein”, wat in Op ʼn leë paron verskyn het, is in 2013 reeds geskryf. “Tydens Nederland se streng inperking was ek op ʼn leë perron. Heeltemal alleen.”

Tog is hy versigtig om nie te veel van die liedjie, wat pasknap vir sy rou storievertellerstem is, te verklap nie.

“Ek wil nie te veel sê nie, want ek wil nie die luisteraar se eie interpretasie van die liedjie te veel beïnvloed nie. As ʼn luisteraar egter die liedjie interpreteer, sal die stasie ʼn metafoor kan word vir daardie dinge wat jy nooit sal verstaan nie. Reise na iewers, maar ook na nêrens.”

Daniel Eeuwrick se jongste musiekvideo is in Nederland geskiet. (Foto: Verskaf)

Daniel, wat in Port Elizabeth in die Oos-Kaap gewoon het, se lirieke het diepte wat veral aanklank by die meer gesofistikeerde luisteraar sal vind.

Piet Botha se mondfluitjie en Anton L’Amour se elektriese kitaar is ook op die snit te hoor. Peter Pearlson het die liedjie vervaardig.

“Die laaste trein” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Die laaste trein”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.