Musiekvideo: Hugh Lynn se debuutsnit kry almal aan die dans

Hugh Lynn se debuutsnit kry almal aan die dans. (Foto: verskaf)

Met ’n heerlike popliedjie tref Hugh Lynn die Afrikaanse musiekbedryf met ’n groot gejuig.

Dié liedjie, wat saam met Hugo Ludik van die mansgroep ADAM ontwikkel is, sal beslis die voete laat jeuk. Jeanette Jacobs, wenner van Sterstatus in 2019/’20, kan ook in die musiekvideo gesien word.

“’Hand om die lyf’ handel oor ’n ou wat nie kan dans nie en ’n kans neem deur ’n meisie te vra om hom te leer dans. Terwyl dié danslesse op die dansvloer aan die gang is, raak hulle verlief en besluit saam om in ’n verhouding te wees,” vertel Lynn.

Hoewel Lynn gewoonlik een van dié was wat iets anders gevind het om homself mee besig te hou as ’n dansliedjie begin speel, is dit vir hom heerlik om nou self mense aan die dans te kan sit.

Volgens hom sal mense wat kan dans en nié kan dans nie met die liedjie kan vereenselwig.

“Dis ’n alledaagse storie oor iemand wat ’n uitdaging het en dit aanpak. Dié storie word vertel met ’n lekker ritme.”

Die musiekvideo is ook die laaste musiekvideo wat by die gewilde dansplek Weiveld wat intussen sy deure moes sluit, opgeneem is.

“Ons het die voorreg gehad om Weiveld se verhoog en beligting te gebruik terwyl ek en Jeanette op die verhoog was.”

In die musiekvideo word hy as ’n skaam kunstenaar uitgebeeld wat sy droommeisie ontmoet, en sy help hom ook gou reg met die danspassies.

Lynn spog met ’n BSc-graad in klankingenieurswese.

“Ek het ook graad 8 in kitaar voltooi en speel ook klavier en tromme,” vertel hy beskeie.

Hy skryf al agt jaar lank aan liedjies en tree die afgelope vier jaar professioneel op.

“Riaan Benade en Bernice West is kunstenaars saam wie ek graag wil werk aangesien hulle skryfwerk en musiekgenre my inspireer,” verklap hy.

“Hand om die lyf” is nou op alle musiekstromingsdienste beskikbaar. Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.