Musiekvideo: Instrumentalis vind haar eie stem

Alouise Peens. (Foto: Verskaf)

“Ek wil hê mense moet my hart hoor en hoor hoe Alouise klink. Ek het vir jare aan ander mense se drome gebou en dit is nou bietjie my beurt.”

Só sê die multi-instrumentalis Alouise Peens oor die bekendstelling van “Dis jy” – haar eerste enkelsnit en musiekvideo as solokunstenaar.

Dié Ghoema-wenner is reeds 13 jaar in die musiekbedryf doenig en werk agter die skerms op produksiestelle van televisieprogramme soos Noot vir Noot, Musiek Roulette en Die Kontrak.

Sy speel al vir vyf jaar die baskitaar in die gewilde Afrikaanse sanger Bok van Blerk se orkes en help ook as onderwyser om jong musikante se talente te slyp.

Haar liefde vir musiek is reeds as driejarige aangewakker toe sy orrel en klavier begin speel het. Kort daarna het sy op haar sussie se kitaar begin tokkel. “Ek het grootgeword onder my ma se klavier,” vertel dié trotse Vrystaatse meisie.

Benewens die klavier en kitaar het sy ook al die tromme, bas- en elektriese kitaar en ukelele bemeester.

Nou betree sy die voorgrond met “Dis jy”, ʼn rou en eerlike, akoestiese popliedjie uit haar eie pen. Hierin maak sy haar hart oop oor haar gevoelens van jaloesie en verlange wanneer sy nie naby haar geliefde kan wees nie.

“Dit is meer soos ʼn tipe jaloesie op alles en almal wat na aan dié persoon is, terwyl ek ver van hulle af is. Ek het besef dat mens alledaagse goed vanselfsprekend aanvaar en dat ʼn mens jaloers is op daardie goed.”

Dié multi-instrumentalis het reeds ‘n Ghoema-toekenning in die sak. (Foto: Alouise Peens/Facebook)

Die liedjie is tydens die inperking geskryf en is volgens Alouise geïnspireer deur die wêreld se gebruik van sosiale media en hoe mense daarop staatgemaak het om verbind te voel.

Haar doelwit met die lied was om eg te wees met die lirieke en luisteraars aan iemand wat vir hulle spesiaal is, te herinner.

“Mense moet dink aan die spesiale tye, liedjies wat vir hulle spesiaal is en die TikTok-video’s en Instagram-inskrywings wat hulle saam gemaak het. Ek wil hê hulle moet glimlag as hulle na die liedjie luister en dan vir iemand daarvan vertel.”

Alouise se uniekheid word ook in “Dis jy” se musiekvideo vasgevang.

“Alles van wie ek is, is swart en wit. So dit is wat ons met die musiekvideo gedoen het,” verduidelik sy.

Alouise en Zander de Beer het saam die konsep van die musiekvideo, wat by Hemels Café in ʼn spierwit Licht-ateljee geskiet is, uitgewerk.

Sy glo dit is belangrik om eerlik te wees oor wie sy is en hoe sy klink, daarom is sy nou betrokke by die vervaardiging van haar musiek.

Vir haar is musiek boonop die polsslag van die lewe, daarom kan sy nie wag om haar eie musiek met die publiek te deel nie.

Wanneer sy nie sing of instrumente bespeel nie, trek sy haar sakevrouskoene aan en bestuur haar eie aanlyn onderneming. As kranige fietsryer het sy al ook tien keer die Cape Argus-fietstoer voltooi.

Sy som haar stem en musiekstyl as eerlike, Afrikaanse popmusiek op en verklap dat ʼn paar Engelse snitte dalk kan volg.

“Hierdie is net die begin.”

Kyk die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.