Musiekvideo: Jong country-sangeres debuteer in Afrikaans

Derónshay. (Foto: Facebook/Derónshay)

ʼn Liedjie wat aanvanklik in ʼn vlaag van woede teenoor ʼn eks-kêrel geskryf is, is nou die sangeres Derónshay se jongste enkelsnit wat met ʼn opgewekte deuntjie luisteraars se voete sal laat jeuk op die dansvloer.

Só vertel die jong blondekop country-sangeres oor haar jongste enkelsnit, “Ry nou”, wat pas saam met ʼn musiekvideo uitgereik is.

“Die liedjie is geskoei op my eie ervaring,” verklap sy oor die inspirasie agter die lied.

“Ek was in ’n veeleisende verhouding wat op die einde veroorsaak het dat ek self nie eers meer geweet het wat ek nou eintlik wou hê nie. Al wat ek geweet het, was dat dinge moeilik en deurmekaar was.”

Maar die ervaring was nie nét sleg nie, vertel Derónshay. “Al het my kêrel baie druk op my gesit en geïrriteerd geraak met my musiekdrome, het ek ook geleer wat ek wél in ’n verhouding soek.”

“Ry nou” is saam met Benjamino le Roux Woest geskryf. Hendrik Meyer van Eagle Wings Recording Studio het die vervaardiging behartig.

Derónshay vertel sy het sowat twee jaar gelede besluit om ernstig te raak oor ʼn loopbaan in musiek en het moeite gedoen om ekstra musiekvaardighede aan te leer, soos om die kitaar en ukelele te bespeel.

Derónshay. (Foto: Facebook/Derónshay)

“As dogtertjie het ek altyd hardop in die publieke badkamers gesing asof niemand anders my sou kon hoor nie. Ek het natuurlik ook my twee sussies in die huis mal gemaak met my alewige gesingery,” skerts sy.

Die lewe is vir haar ’n leerskool en die laaste jaar het sy besef dat die musiekbedryf ’n tawwe een kan wees.

“Jy moet mooi dink oor wie jy kan vertrou en moet besef dat almal nie altyd gaan hou van wat jy doen nie. Mense kan uitdagend wees en die vraag wat jy jouself moet afvra, is of jy die kritiek gaan vat as ’n negatiewe ding, en of jy dit tot jou voordeel gaan gebruik en daaruit verbeter.”

“Ry nou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

 

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ry nou”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.