Musiekvideo: Kragtige Tarryn Lamb-ballade roer hartsnare

Tarryn Lamb in die musiekvideo vir ‘Hoor jy my’. (Foto: Skermgreep)

Tarryn Lamb, die bekende sangeres en liedjieskrywer, se jongste enkelsnit, “Hoor jy my”, is ʼn kragtige ballade waarin aanhangers weer haar formidabele stem sal kan geniet terwyl hul meegesleur word met die dieper betekenis agter die liedjie.

“Hoor jy my” is geskryf deur die musikant en liedjieskrywer Frank Freeman. Die liedjie het ontstaan uit ʼn vraag: Hoe vergelyk ʼn oomblik teenoor die konteks wat tyd ons gee?

“Die liedjie beskryf hoe dit wat ʼn mens soms in ʼn oomblik voel, nie is wat jy dink dit is nie, maar dat jy ten spyte daarvan slegs in die oomblik kan leef,” verduidelik Frank.

Tarryn sê sy het die liedjie gekies, want dit laat haar dink aan hoe dit nou is vir ons mense wat die afgelope paar jaar deur soveel lewensveranderinge en persoonlike, moeilike tye moes gaan.

“Soms voel ʼn mens so alleen in jou struikeling, want ons almal weet en verstaan dat elke persoon net probeer om die beste van die lewe te maak, om sterk te staan en net die beste wil maak van alles en die beste hê vir almal wie ons lief het, en meer omgee vir almal te gee,” sê Tarryn.

“Ek dink die vreesaanjaendste gevoel is wanneer ons iets ervaar wat ons laat voel asof niemand ons kan hoor of verstaan nie. Miskien is dit soms die maskers wat ons almal dra om vir ons geliefdes of die wêreld te wys ons is oukei.”

“Hoor jy my” praat met Tarryn se hart en sy glo dit sal ook met luisteraars se harte praat. “Elke keer as ek die liedjie sing, voel ek ʼn groot ontlading van iets wat baie swaar was vir my, iets wat ek nie eers geweet het ek dra nie.”

Die musiekvideo vir “Hoor jy my” neem die kyker op ’n emosionele reis soos Tarryn die liedjie opvoer.

Tarryn Lamb. (Foto: Verskaf)

Tarryn en Frank is tans besig met die ontwikkeling van die teaterproduksie, Busrit in die aand, wat in klein teaters en op feeste te sien sal wees.

“Ek sien uit na hierdie produksie, want ek kry die geleentheid om meer kitaar te speel en stories te vertel in ʼn intieme ligging.”

Tarryn is al van 17-jarige ouderdom voltyds in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf besig. Sy sê die Here, die lewe, haar familie, die natuur, mense, ervarings, liefde, seerkry en hoop inspireer haar om te skryf en sing.

Sy sonder haar onlangse vertoning saam met die ikoniese kunstenaar Amanda Strydom as ʼn groot hoogtepunt in haar loopbaan uit.

Sy het saam met Amanda en ʼn rits ander groot name in die bedryf op die verhoog gestaan tydens die onlangse Suidoosterfees.

“Dit was vir my ʼn volsirkel-oomblik, want toe ek in graad 10 was, het my hoërskoolonderwyser my na my eerste lewendige optrede geneem, en dit was Amanda Strydom se eenvrouvertoning, State of the heart. Ek was stomgeslaan deur haar manier van storievertel deur haar musiek.”

“Hoor jy my” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.