Musiekvideo: Riana Nel en Retief Burger sing ‘Die Seën’

Riana Nel en Retief Burger. (Foto: Ruben Roos)

Twee van die land se grootste gospelsangers, Riana Nel en Retief Burger, het kragte saamgesnoer om ʼn Afrikaanse weergawe van “The Blessing” getiteld “Die Seën” op te neem.

Die musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Ons is lief vir Afrikaans en ons is lief vir ons God,” vertel Nel oor die liedjie in ʼn agter-die-skerms-onderhoud met Coleske Artists.

“Wat vir my ongelooflik is, is dat ons nie die werk van die Heilige Gees hoef te doen nie. Hy kom doen dit deur ons soos wat ons sing en ons moet net met ons harte vol kom.”

Sy vertel sy en Burger het deurgaans gebid in die ateljee terwyl die liedjie opgeneem is. “Ons gebed is dat wanneer jy dié liedjie hoor, dat jy God se seën oor jou sal ervaar, dat Sy hand oor jou rus en dat Hy jou beskerm.”

Retief en Riana op die stel van die musiekvideo. (Foto: Ruben Roos)

Burger vertel op sy beurt die liedjie is opgeneem kort voordat sy dogtertjie gebore is. “Ek dink aan my kinders en my kinders se kinders wat die Here noem geseënd, want ek volg Hom en my lewe is aan Hom oorgegee.

“Ons land het hoop nodig. In tye soos hierdie het ons ʼn groter anker nodig om aan vas te hou as net onsself. Die wêreld is in so ʼn stukkende plek en ons het ʼn rots nodig.”

Nel beaam dit. “Sy seën oor ons lewens is soveel meer as net dinge wat ons het of plekke waarheen ons kan gaan. Dit kom na die brug van die liedjie toe vir my – na ons kinders, ons familie, ons naastes. As ons mekaar kan liefhê, dan leef ons in die seëning van God.”

“Die Seën” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rentia ·

Sjoe… Baie mooi. Steeds bewaar Hy ons, elke dag, elke nag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.