Musiekvideo: Rudi Kleingeld nou sy eie liedjiemeester

Rudi Kleingeld. (Foto: Rudi Kleingeld/Facebook)

Ná jare in die musiekbedryf as musikant, afrigter en musiekgroepleier, het Rudi Kleingeld uiteindelik die waagsprong geneem om sy eie musiekstempel op die bedryf af te druk.

Dié 31-jarige kunstenaar, wat al vir langer as ʼn dekade saam met sangers soos TiNo, Bernice West en Juan Boucher op die verhoog te siene is, se eerste enkelsnit, “Moeg”, het vandag (1 Augustus) die klankgolwe getref.

“Ek hou nie eintlik van negatiewe titels nie,” erken Rudi aan Maroela Media.

“Soms is dit tog nodig om die monsters wat ons elkeen in die lewe het, in die gesig te staar. Ons almal kan vereenselwig met die tema van die liedjie. Hierdie is ʼn bevrydingslied.”

Rudi stap al ʼn lang pad met musiek, hoewel hy nooit vroeg in sy lewe formele musiekopleiding gehad het nie. Soos wat elkeen maar deur verskillende fases gaan, het hy ook. Hy was deur sy grootword- en tienerjare heen ʼn kranige sportspeler, maar het eindelik teen 16 besef dat hy ʼn gees vir rock en roll-musiek het.

“Dit is natuurlik ná my Backstreet Boys-fase,” erken hy.

Hy het in Heidelberg grootgeword, en sy ouers geskok toe hy hulle ná skool inlig dat hy sy tasse gaan pak en groener musiekweivelde in Pretoria gaan soek. Daar het hy ʼn musiekgroep begin en nooit weer teruggekyk nie.

Hy het intussen ook sy eie musiekskool, Vyfrand-musiek, geskep. Vir die afgelope paar jaar het hy sy voete ferm in die musiekbedryf geplant, en sien uit daarna om sy eie pad te skep.

Kyk na die musiekvideo van “Moeg” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.