Musiekvideo: Solo-debuut in moedertaal vir bekende duo se Werner

Werner van der Hoven. (Foto: Kontentmint)

‘n Solo-loopbaan is nou op die kaarte vir die musikant Werner van der Hoven, wat bekend is aan Afrikaanse musiekliefhebbers as deel van die duo, Jack & June.

Werner verleen sy unieke stem aan sy splinternuwe enkelsnit, “Wynland”, ‘n liefdeslied wat die mooi van liefwees beskryf.

Die musikant, wat met “Wynland” sy solo-debuut in die Afrikaanse musiekbedryf maak, sê hy het inspirasie vir die liedjie uit sy omgewing geput.

Werner woon op ‘n plaas en sien en hoor elke dag die trekkers op en af ry kelder toe en terug. “Ek geniet dit wat die wynland my bied uit ‘n glasie wyn, en speel my kitaar en sing en skryf in die aande langs ‘n kaggelvuur net tot laat genoeg sodat ek weer vroeg kan opstaan om as pa aanrywerk skool toe te doen,” sê hy.

Volgens Werner sou sy Afrikaanse debuut begin by een liedjie, toe raak dit drie en nou is die produksie van ‘n volledige album in die proses.

Werner van der Hoven. (Foto: Kontentmint)

“Ek hardloop al vir jare weg van my moedertaal. Ek het keer op keer gestruikel om haar liefde te gaan haal, maar ek begrawe nou my ego diep onder die grond en beskerm hierdie woorde vir haar plekkie in die son.”

Pierre Greeff, voorsanger van Die Heuwels Fantasties en direkteur van die Suprafamilias-platemaatskappy sê: “Ek is baie opgewonde oor Werner se debuutenkelsnit en album. Hy is volgens my ‘n voorloper van stem- en skryftalent van sy generasie, en ek kan nie wag dat mense dit ervaar nie.

“Ek en Fred den Hartog het die beste tyd gehad tydens die opnames saam met hom, en dis ‘n absolute voorreg om deel te wees van sy skeppings.”

Die aktrise en fotograaf Marguerite van Eeden maak ook haar debuut as regisseur van die musiekvideo vir “Wynlande”.

“Dit is altyd ongelooflik om so ‘n opwindende en uitdagende ervaring aan te pak, maar gelukkig het ek dit nie alleen gedoen nie,” sê Marguerite.

“Om saam met Damiane van Reenen, Pieter Booysen, Roy-Michael Harris en Pierre Greeff te werk, was wat die projek so lekker, maar ook so doenbaar, gemaak het. Almal het saamgespan om noukeurig te beplan en dan op die ou einde saam te werk om alles bymekaar te laat vlans.”

“Wynland” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.