Musiekvideo: Veldtoglied vertel musikant se storie van mishandeling

Michelle Mountjoy en Hunter Kennedy se ‘Hierdie is nie liefde nie’ ondersteun die 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders.

Sy het drie uur voor die vlug wat haar sou wegneem van die man wat haar jare lank mishandel het amper kop uitgetrek en by hom gebly, maar die dag toe Michelle Mountjoy haar instink vertrou het om te ontsnap, is die dag wat sy weer haar lewe teruggekry het.

“Hoe verder ek van hom af weg was, hoe helderder het my gedagtes geword en hoe meer het ek besef hoe diep in die moeilikheid ek werklik was,” vertel Michelle, musikant en wenner van die kykNET-talentsoekprogram Wat dit vat, aan Maroela Media.

Michelle se jongste enkelsnit, “Hierdie is nie liefde nie”, is saam met die bekende musikante Hunter Kennedy en Fred den Hartog geskryf ter ondersteuning van die 16 dae van aktivisme-veldtog teen geweld op vroue en kinders, ’n jaarlikse Verenigde Nasies-inisiatief wat van 25 November tot 10 Desember plaasvind.

Dié veldtog fokus jaarliks op die bewusmaking van die negatiewe uitwerking van geslagsgebaseerde geweld op die samelewing.

“Aan die begin het ek stilgebly, want ek was getroud met die man en ek het skaam gevoel oor waardeur ek gegaan het. Dit was vir my baie moeilik om oop te maak teenoor enigiemand en ek wou graag ʼn sukses van die huwelik maak,” vertel Michelle.

Die egpaar het in 2018 na Viëtnam getrek waar hulle gewerk het. Hier het die mishandeling telkens vererger.

Die omslag van ‘Hierdie is nie liefde nie’.

ʼn Toevallige besoek in Viëtnam deur haar ouers het egter dinge weer vir haar in perspektief geplaas. Sy glo dit was ʼn bestiering van die Here wat haar lewe gered het.

“My pa het gereeld in China gewerk en dié keer het my ma saam met hom gereis. Hulle het besluit om Viëtnam ook te besoek en my ma het vir ʼn rukkie by my vertoef terwyl my pa sy sakereis afgehandel het. Een aand het ek net gebreek voor my ma. Ek het haar alles vertel en gehuil oor die eensaamheid wat ek beleef het.”

Haar ma het haar gesmeek om huis toe te kom na Suid-Afrika. “My ma se reaksie het my laat besef ek is kniediep in die moeilikheid. Sy was bang sy sou my nie weer sien wanneer sy Viëtnam verlaat nie. Dit het my geruk.”

Michelle het kort ná haar ouers se besoek ʼn vlug Suid-Afrika toe bespreek en nie weer teruggekyk nie.

“Drie uur voor die vlug het ek amper kop uitgetrek. Ek wou nie gaan nie. Mishandelaars is ook so goed daarmee om jou te manipuleer en jou gevoelens teen jou te gebruik, maar ek het my instinkte gevolg – ek glo elke persoon het daai gut feeling – en hoewel dit die langste vlug van my lewe was, kon ek uiteindelik raaksien presies hoe sleg ek behandel is en hoe dit my lewe geraak het.”

Sy en Hunter, wat saam met haar in die snit te hoor is, het op die stel van Wat dit vat ontmoet.

“Nadat ek die idee vir die liedjie aan hom voorgelê en my storie met hom gedeel het, het hy dadelik ingestem om saam met my daaraan te werk. Hunter se energie en dryfkrag is aansteeklik en dit was ʼn plesier om hierdie projek saam met hom aan te pak.”

Die liedjie ondersteun die TEARS-stigting se werk tydens die 16 dae van aktivisme-veldtog. Die stigting vier vanjaar sy tiende bestaansjaar en bied toegang tot krisisintervensie-, voorspraak-, berading- en voorkomingsopvoedingsdienste vir diegene wat geraak word deur gesinsgeweld, seksuele aanranding en seksuele mishandeling van kinders.

Michelle Mountjoy tel nou die stukke van haar lewe op.

Die stigting se hoofkantoor is in Johannesburg geleë, maar verskaf ʼn nasionale diens wat 24 uur per dag, 365 dae van die jaar beskikbaar is en gratis is vir alle mense in Suid-Afrika.

Michelle sê sy het die stigting genader oor ʼn samewerkingsproses, aangesien sy haar storie wil deel en sodoende mense se lewens verander.

“Elke persoon op aarde het al ʼn vorm van mishandeling – hetsy fisiek of verbaal – ervaar. Daarom sal enigiemand kan aanklank vind by die liedjie.”

Intussen is Michelle besig om die stukke van haar lewe weer op te tel en hoewel sy haar storie kortliks op sosiale media gedeel het, wil sy graag onder meer skole besoek om haar storie met skoolleerders te deel.

“Ek sal graag veral met jongmense my storie wil deel, want ek glo hoe jonger jy leer oor die gevaartekens hoe beter sal jy later weet waarvoor om te kyk om moontlik te verhoed dat jy nie in dieselfde situasie as ek beland nie.”

“Hierdie is nie liefde nie” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Vir meer oor die TEARS-stigting, besoek die webwerf.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.