Kom ondersteun ’n konsert gevul met liefde

gysje-rene-roux-5.jpg

Gysje het al soveel mense se harte aangeraak. (Foto verskaf)

Dis weer tyd vir Solidariteit Helpende Hand se Liefde in gestremdheid (LIG)-konsert.

Hierdie jaar gaan ons weer groot! Ons gaan weer LIG skep en ons gaan dit doen saam met ons hoofborg Afrison, daarom noem ons ook die konsert hierdie jaar die Afrison LIG-konsert.

Ons sien uit daarna om hierdie geleentheid saam met talle mense van heinde en verre te geniet. Kunstenaars wat gaan optree, is die immer gewilde, Drie van die Bestes, Vernon Barnard en Prop. Ons nooi jou graag uit om saam met ons ‘n verskil te maak en die konsert op 28 Julie 2023 by die Sol-Tech-kampus in Monumentpark by te woon.

Die doel van die konsert is tweeledig: Eerstens wil ons persone met gestremdhede ‘n geleentheid gee om hulle stem te laat hoor, en tweedens wil ons fondse insamel om aksies en projekte te loods om werklik ‘n volhoubare verskil te maak in hulle lewens. Ons wil seker maak die LIG-studiefonds word versterk sodat ons persone met gestremdhede die geleentheid kan ontvang om ook te gaan studeer.

Verlede jaar se buitelugkonsert was ‘n groot sukses. Gesinne kon saam baljaar en jonk en oud het dit geniet! My gedagtes gaan terug na kinders wat vrylik speel en dans op die gras terwyl Ruhan du Toit sing. Wat ‘n belewenis was dit nie!

Ek het verlede jaar ‘n artikel geskryf oor klein Gysje wie se down se sindroom haar glad nie keer om ‘n vreugdevolle kleuter en ‘n liefdevolle dogtertjie vir haar mamma en pappa te wees nie! Klik hier om die artikel te lees.

Gysje se gesin het verlede jaar se konsert saam met haar kom geniet. Sy was omtrent opgewonde om saam met maatjies wat net soos sy is te speel en by ‘n konsert te dans. Ons het gesukkel om die kinders in die bakkie te kry om huis toe te gaan. Ek en Gysje se ma is al vriendinne vandat ons klein dogtertjies was, en dit was vir ons net so lekker om weer tyd saam te spandeer by die konsert.

René saam met Elsje en haar Gysje. (Foto verskaf)

By ‘n konsert soos hierdie heers ‘n ander atmosfeer as by ander konserte; jy vind ‘n ander soort liefde en jy sien ‘n ander deel van menswees, ‘n deel wat jy nie elke dag die voorreg het om te kan sien nie. Ek self het die aand by LIG-konsert 2022 gestaan en kyk na klein Gysje en ander kinders soos sy, na ‘n man wat nie kan sien nie en ‘n dogter wat nie kan hoor nie. Hulle het my in verwondering gelaat oor wat hulle alles vermag. Dit het my weer opnuut moed gegee om aan te hou met waarmee ons besig is, Liefde In Gestremdheid: Om elke dag te poog om te help; om die LIG-studiefonds so veel as moontlik te versterk sodat hierdie kinders ook die nodige opleiding kan ontvang; om aan te hou bid, gee en geleenthede soos die LIG-konsert te hou sodat daar altyd nog ‘n plekkie sal wees waar almal onder die LIG van ons almagtige Vader sal voel hulle behoort.

Prop op die verhoog by ‘n vorige LIG-konsert. (Foto verskaf)

Gysje se mamma Elsje getuig: “Ek het nog nooit so baie van die lewe geleer soos sy my geleer het nie: om weer te sien en te waardeer al is iets hoe klein; om alles te vier, want die lewe is kort; om lief te hê en goed en sag te wees met ander, want soveel mense het dit nodig sonder dat hulle dit besef; om vinnig te vergeef al is jy hoe kwaad; om te stop, asem te haal en aan ‘n blom te ruik al is almal in die wêreld om jou haastig. Sy kan uithou en het deursettingsvermoë, want as sy iets wil doen, dan gaan sy, maak nie saak hoe moeilik of frustrerend dit is nie. Met haar in ons lewe sien ‘n mens soveel mooi van die mensdom: hoe ‘n gemeenskap en familie saamstaan, hoe mense mekaar ondersteun en Gysje aanvaar.”

Dit is presies wat hulle by die LIG-konsert ervaar het: ‘n gemeenskap wat aanvaar, ondersteun en lief het.

Kom ons vier weer almal saam fees en betoon dankbaarheid en LIG. Laat ons saam vorentoe tree en mekaar ondersteun.

Besoek www.ligkonsert.co.za om jou kaartjie te koop en kom deel in die genade.

Ons spreek ons opregte dank uit teenoor die volgende borge, persone en instansies wat reeds hand opgesteek het om deel van hierdie konsert wat hoop saai te wees: Afrison, die hoofborg; Izintaba Group of Companies; en Maroela Media, mediavennoot van die konsert.

  • René Roux is ‘n adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.