Nataniël in Amsterdam vir slegs een vertoning

Nataniel. (Foto: Verskaf)

Nederlandse fynproewers en liefhebbers van musiek en teater kan eersdaags nader skuif wanneer die Suid-Afrikaanse ikoon, Nataniël, sy buiging op die planke in Amsterdam, Nederland maak.

Dié superster, wat reeds die afgelope vier dekades ʼn huishoudelike naam op Suid-Afrikaanse bodem is, maak op Saterdag 13 Mei in die Theatre Amsterdam slegs vir een aand sy buiging in ʼn eksklusiewe vertoning. Die vertoning word in trotste vennootskap met Maroela Media aangebied.

Ná 37 jaar op die Suid-Afrikaanse verhoog, sewe jaar se televisieopnames in Frankryk, die publikasie van 22 topverkoperboeke en die uitreiking van 18 albums, asook optredes in lande soos Brittanje en Australië, is Nataniël binnekort uiteindelik ook in Nederland op die planke.

Nataniël in Concert bevat die veelsydige kunstenaar se kenmerkende stories en oorspronklike musiek in Engels en Afrikaans, asook unieke verwerkings van ’n paar tydlose treffers.

Nataniël deel ook die verhoog met wêreldmusikante soos die Steinway-pianis Charl du Plessis, kontrabas- en baskitaarspeler Werner Spies en tromspeler Peter Auret. Floris Louw behartig weer die uitnemende kostuums waarvoor Nataniël bekend is.

“Dit is altyd opwindend om uiteindelik in ’n land wat ek dikwels besoek op te tree, ook om die werkinge van ’n nuwe teater te beleef. ’n Internasionale gehoor is ’n uitdaging en ’n kans om weer die totale opwinding en heerlike vrees van jou beginjare te beleef. Ek is bevoorreg om die verhoog met ’n wêreldklas trio te deel,” sê Nataniël.

“Met fantasie, humor, meesleurende melodieë, blues- en jazz-ritmes en eindelose plesier, is Nataniël in Concert ’n uitvoering wat nie misgeloop moet word nie,” sê Wian Smith-Venter, uitvoerende hoof van die Marketing Zoo en mede-organiseerder van die vertoning. Die Marketing Zoo bied die konsert saam met Artist Warehouse aan.

Dié kunstenaar se eksklusiewe besoek aan die Theater Amsterdam volg op die suksesvolle vertoning van die Suid-Afrikaanse blondekop-popster, Demi Lee Moore, in dié teater in September 2022.

“Daar is toenemende getalle Suid-Afrikaners wat in Nederland nesskop. Dit beteken dat die mark vir Afrikaanse musiek in Nederland al hoe meer verbreed, en dat konserte soos Nataniël en Demi Lee s’n al hoe meer in aanvraag gaan kom,” sê Wian.

Nataniël in Concert is 90 minute lank. Die konsert het geen pouse nie, en geen foto’s of opnames word toegelaat nie.

Geen kinders onder 15 jaar word toegelaat nie.

Koop jou kaartjies vir die konsert in Nederland hier op EventBrite.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.