Nederlandse musiekduo dié week in SA te sien

Die Nederlandse musiekgroep, Duo Duin & Berg. (Foto: Verskaf)

Die Nederlandse musikante, Gelske van der Duin en Yolande van den Berg, wat as Duo Duin & Berg bekendstaan, probeer al vir die afgelope twee jaar om vertonings in Suid-Afrika aan te bied.

Plaaslike gehore kan hierdie week uiteindelik naderskuif vir twee verskillende aanbiedings van ʼn Musikale reis, Duo Duin & Berg se opvoering van verskeie digters se poësie in liedvorm. Dus, twee verskillende programme onder dieselfde naam.

“Die een program is saamgestel uit ligte klassieke musiek. Dit is ʼn reis na fisieke plekke, en ʼn lewensreis na die onbekende toekoms vol verwagting en hoop. Ons wil met hierdie program musiek inspan om mense op te beur en ʼn gevoel van geluk by hulle te wek.

“Ons tweede aanbieding wil gehore op ʼn musiekreis deur die Lae Lande en Suid-Afrika neem. Dit is ʼn wêreldreis wat verskillende rigtings inslaan: van kabaret en ʼn wiegeliedjie, tot ʼn besinningsmoment, deur musiek wat geluk vergestalt en die lewe verlig,” verduidelik Yolande aan Maroela Media.

Met Yolande op klavier en Gelske as solis kry onder andere Boerneef, Totius, Elrika van der Walt, Marianne Raath en Susan Smith se gedigte lewe in musikale vorm. “Mense wat lief is vir Afrikaans en vir digkuns in die algemeen, sal hierdie vertoning geniet.”

Yolande, ʼn gebore Suid-Afrikaner, sê sy en Gelske het Saterdag reeds ʼn uiters suksesvolle konsert by die Pierneefteater in Pretoria gehad. Hulle sien met groot opgewondenheid uit na nog ʼn paar vertonings wat voorlê.

“Die hartlikheid waarmee Suid-Afrikaners ons ontvang het, is oorweldigend. Ons moes nog stoele by die Pierneefteater indra sodat daar genoeg plek vir almal is om te sit. Dit het ons werklik uit die veld geslaan.”

Nadat Yolande haar beroep as geoktrooieerde rekenmeester vaarwel geroep het om haar passie vir musiek op ʼn meer formele wyse na te streef, het sy vir Gelske by die Nederlandse Konservatorium ontmoet.

Hulle paaie het gekruis toe Gelske vir Yolande gevra het om haar met die uitspraak van Afrikaanse liedere te help. “Ons het dadelik aanklank by mekaar gevind. Afgesien van Gelske se fantastiese, warm alt stem, het sy ook ʼn wonderlike humorsin wat ek terdeë geniet.”

Yolande is ongeveer 25 jaar gelede Nederland toe, maar dit was nie die plan om daar te bly nie. “Toe ek my man, Rob, daar ontmoet, het my planne in ʼn oogwink verander,” vertel sy laggend.

Gelske is in Friesland gebore. Dít is waarom sy die uitspraak van die Afrikaanse gedigte kan regkry. Volgens haar is daar heelwat ooreenkomste in uitspraak tussen Fries en Afrikaans.

Hier is ʼn lys van Duo Duin & Berg se vertonings wat binnekort plaasvind:

  • 11 Julie om 19:00 by die Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein. Kry jou kaartjies op Webtickets.
  • 12 Julie om 12:00 by die Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein. Kry jou kaartjies op Webtickets.
  • 15 Julie om 18:00 by die NG Kerk Nahoon in Beacon Bay, Oos-Londen.
  • 23 Julie om 15:00 by die NG Kerk Helderberg in Somerset- Wes.

Luister hier na ʼn toonsetting van Elrika van der Walt se gedig, “Gedig vir jou”, as lusmaker vir die konsert. Die digter het saam met Yolande gewerk om dié mooi gedig te toonset, en dit word deur Gelske gesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.