Niël Rademan verenig mense, musiek by Suidoosterfees

Nië Rademan (Foto: Verskaf)

Enkele klassieke musiekhoogtepunte waarna feesgangers op vanjaar se Suidoosterfees-program kan uitsien, is Clara, die ATKV Koorgala en 20 Musical Moments.

“Ek glo in verskeidenheid, maar voel altyd onder ʼn klassieke sambreel tuis. Hoewel ek vir al my produksies lief is, lê Clara my besonder na aan die hart,” sê Niël Rademan, musikant en teatervervaardiger, wat ʼn hand in elkeen van die bogenoemde produksie het.

Hy is die regisseur van Clara, ʼn nuutgeskrewe dramateks uit die pen van Riana Scheepers. Dit handel oor die lewe van die komponis en pianis Clara Schumann, beter bekend as Robert Schumann se vrou.

In die rol van Clara is Carla Smith en die pianis Nina Schumann (soos Madame Clara ook pedagoog en konsertpianis) verklank Clara se storie met klaviermusiek. Dit is musiek deur die komponiste Robert Schumann, Johannes Brahms (Clara se geliefde vriend), en natuurlik werk van Clara self.

Volgens Niël is Clara se verhaal iets waarmee elke teaterganger op ʼn manier kan vereenselwig.

“Dit gaan oor iemand met drome in hulle oë, en wat hunker en hoop op liefde, teleurstelling, ouderdom en uiteindelike vrede, selfs dalk vreugde.

“Hierdie lewensverhaal, wat deur die liriese enigmatiese Riana Scheepers-teks en klassieke musiek vertel word, is enig, pragtig, intiem en groots,” meen hy.

In 20 Musical Moments is Niël nie net die regisseur nie, maar hy skuif ook self agter die klavier in.

Die mooiste treffers uit gewilde musiekblyspele soos Phantom of the Opera, Les Misérables, Hair, Sound of Music en Once on this Island word deur onder andere André Schwartz, Lynelle Kenned en Emo Adams gesing.

Dit word saam met ʼn verhoogorkes en twee klaviere uitgevoer. ʼn Talentvolle vokale ensemble wat uit afgestudeerde studente van die Northlink College se dramadepartement bestaan, tree saam met die professionele kunstenaars op.

Dan is Niël ook die samesteller van die ATKV Koorgala wat op 30 April by die Kunstekaap aangebied word. “Die idee is om amateur kore uit verskeie dele van die Wes-Kaap saam met professionele musici op die verhoog te plaas.”

Wenkore wat in Maart en April aan die ATKV Suidoosterfees Koorkompetisie deelgeneem het, tree saam met Nina Schumann en Megan-Geoffrey Prins (pianiste), Piet de Beer (violis), Zanne Stapelberg (sopraan), Brittany Smith (sopraan) en Conroy Scott (bariton) op. Feesgangers kan om 10:00 gratis die eindrondte van die kompetisie bywoon en om 17:00 volg die gala-aand.

Carla Smith (Foto: Gys Loubser)

Die Suidoosterfees word van 26 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad aangebied en hierdie jaar gaan dit boonop gepaard met die viering van sy 20ste bestaansjaar.

“Hierdie fees is bekend vir sy diverse musiekaanbod. Dit is werklik ʼn fees vir almal, en nie net is dít die Suidoosterfees se amptelike leuse nie, maar die programme doen beslis ook hierdie credo gestand.

“As vorige hoof van die fees besef ek wat die reusewaarde is wat die Kunstekaap Operahuis vir ʼn sanger en musikant inhou. Dit is een van dié venues en ʼn wens vir talle kunstenaars om darem een keer op die groot verhoog te kan staan,” sê Niël.

Hy het in 2018 die leisels as uitvoerende hoof van die Suidoosterfees aan Jana Hattingh oorgegee.

Kaartjies vir die Suidoosterfees is op Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.