Nuwe enkelsnit en album vir Afrikaanse veteraan

Met musiekstyle en -neigings wat voortdurend verander, verg dit ʼn merkwaardige musikant om vir byna vyf dekades relevant te bly.

Jannie du Toit, die Afrikaanse musieklegende, is een van daardie kunstenaars wat die toets van tyd kon deurstaan. Hy het homself die afgelope paar jaar daarop toegespits om musiek van sy gunsteling-musikante soos Jacques Brel, Jules de Corte, Koos du Plessis en Lucas Maree te sing, maar het besluit dat dit weer tyd is om op sy eerste liefde en passie te fokus, naamlik om Afrikaanse liedjies te skryf en na die verhoog te bring. Die resultaat hiervan, is ’n splinternuwe album getiteld Oesjaar.

Die eerste enkelsnit in dié nuwe album, ’n aangrypende liefdesballade, “Jy kyk sag”, is vir sy vrou geskryf. Du Toit en Therina Wentzel is in Junie vanjaar getroud.

“Ek het die liedjie vir haar geskryf en moet erken dat dit my persoonlike gunsteling is,” verklap hy luidens ʼn mediaverklaring. “Buiten vir die feit dat dit ’n mooi liefdesliedjie is, het dit ook ’n lekker 60’s folk-aanslag, wat dit vandag anders maak as die deursnee.”

Die nuwe album word in November vanjaar uitgereik. “Oesjaar is ’n hoogtepunt en viering van 48 jaar as ’n Afrikaanse kunstenaar, maar dit bevat slegs materiaal wat hierdie jaar geskryf is. Dit gaan oor wat ek glo, goed waarvoor ek hoop en oor die mense, plekke en dinge wat ’n verskil in my lewe gemaak het en steeds maak. Ek is vol vertroue dat die eindresultaat nie sal teleurstel nie.” sê hy.

Dié jongste CD takel ’n wye verskeidenheid temas. Daar is ’n huldeblyk aan die komponis en klavierspeler Christa Steyn, wat vir 25 jaar Jannie se goeie vriendin, begeleier, medekomponis, musiekverwerker van sy albums en musiekvennoot op wêreldwye reise was.

Die titel van die liedjie is die woorde wat Christa self in haar laaste hartroerende televisieonderhoud vir Coenie de Villiers gesê het: “Sy genade is genoeg”. “Koffiekafeetjie” is ’n nostalgiese onthou-liedjie oor ’n koffiewinkel in Melville wat gereeld in die 1990’s deur kunstenaars besoek is, maar ook oor Badia Isaacs, die vrou wat die hart en siel van die plekkie was.

“Vat die pad” gaan oor musiekreise saam met Christa, maar ook saam met sy huidige musiekkollegas oor meer onlangse ervarings. Dan is daar “Ons soek ’n tata”, opgedra aan Madiba en in die titelsnit, “Oesjaar” gebruik Jannie ’n wingerd as beeld van sy musiekloopbaan: Hierdie wingerd is my gawe, my pasella reg van Bo. Hierdie wingerd daag my uit om hard te werk en vas te glo. Hierdie wingerd is my hawe, sorg vir brood en sorg vir hoop. Stuur my weg op ver, ver paaie, vir die hart om op te loop.”

Oesjaar bevat ook ’n paar bonussnitte – van vroeëre liedjies uit sy wingerd, waaronder Karen Zoid se opwindende rockverwerking van “’n Liedjie vir jou”Dié liedjie is presies 40 jaar gelede deur Jannie geskryf en dit het vanjaar opslae gemaak toe Karen en Jannie dit opgeneem het vir haar program, Die Republiek van Zoid Afrika. Binne ’n uur ná die uitsending het dié opname bo-aan iTunes se treffersparade gepronk.

Die nuwe album wat deur die briljante Clinton Zerf verwerk is, sal bekendgestel word tydens twee spesiale vertonings in die Mothership Studios in Philadelphia in die Wes-Kaap en in die Atterbury-teater in Pretoria onderskeidelik op Sondag 11 en Dinsdag 13 November. Die album sal, via Vonk Musiek, beskikbaar wees op iTunes asook by uitgesoekte musiekwinkels.

Om Oesjaar verder bekend te stel, onderneem hy in Desember ’n uitgebreide toer deur die Kaap. Hy sal begelei word deur sy top-ensemble: Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier/trekklavier) en Theuns Botha (perkussie).

Optredes sal by die volgende plekke plaasvind:

1 Desember:  Melville Kruiskerk

4 Desember:  Kroonstad Micro Theatre and Showcase

5 Desember:  Surval Boutique Olive Estate, Oudtshoorn

6 Desember:  Theatre Bay Pasta Co, Jeffreysbaai

7 Desember:  Jongensdal, Stilbaai

8 Desember:  Gouda Hotel

9 Desember:  Die Boer, Durbanville

10 Desember:  Montagu Country Hotel

11 Desember:  De See Kat, Paternoster

12 Desember:  Die Ou Meulteater, Paarl

13 Desember:  Drostdyteater, Stellenbosch

14 Desember:  Tin Kitchen by Vensterklip, Elandsbaai

15 Desember:  Hermanus-ouditorium

17 Desember:  Showroom Theatre, Prince Albert

20 Desember:  NG Kleinmond, Bettiesbaai

21 Desember:  Nature’s Valley-gemeenskapsaal

 

Besprekings en navrae kan gedoen word by Jopie Koen by 072 460 5568 of by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.