Nuwe enkelsnit vertel van pyn, teleurstelling in huwelike

Fransien Scott (Foto: verskaf)

“Die wind het kom waai” is geïnspireer deur elke vrou wat alleen kon staan en vorentoe kyk, nadat hulle pyn en teleurstelling in hulle verhoudings en huwelike ervaar het.

Fransien Scott, die Suid-Afrikaanse sangeres wat haar tuiste in die buiteland gevind het, verken die winde van verandering in haar splinternuwe enkelsnit.

“Dit gaan oor die ongelooflike ommekeer en oomblik waarin ʼn hart kon losskeur van iemand wat eens baie spesiaal was, bykans desperaat vir bevryding daarvan,” het Scott oor die nuwe enkelsnit gesê.

“Die wind het kom waai” is deur dié musikant self geskryf en deur Helmut Meijer van Stonebear vervaardig.

Scott het dekades gelede haar groendakhuis in Suid-Afrika verruil vir die vreemde, en het al in Engeland, Switserland en Spanje gewoon. Sy woon tans saam met haar man en twee tienerkinders in Portugal.

Nie net bekoor die sprankelende Scott mense met haar musiek nie, sy het ook ʼn ander roeping wat sy met toewyding nastreef.

KeeperSoul, vernoem na haar ma se gunstelingboom, die kiepersol, bied ʼn wegbreekkans vir vroue wat hulle verbintenis met geloof en die lewe verloor het.

“Die kiepersol sal altyd die hoogste boom wees. Sy kroon smag na sonlig, en maak nie saak watter bome om hom groei nie, hy sal groei totdat sy kroon die son voel.”

In die middel van ʼn lemoenboord in Portugal kom vroue van oor die wêreld twee keer ʼn jaar bymekaar vir vernuwing, bemagtiging, nuwe vriende en ʼn bietjie bederf.

“Oor die afgelope paar jaar het ek deur middel van my vrouebediening, KeeperSoul, ʼn pad gestap met vroue wie se oorlewingstories my aangegryp het. Ek wou graag ʼn lied skryf waarin ek die belangrikheid van die rol van ander inspirerende vroue in ons lewe benadruk,” het sy verduidelik.

Die musiekvideo vir die splinternuwe enkelsnit is by haar huis in Portugal verfilm, ʼn simboliese gebeurtenis aangesien dit juis daar is waar KeeperSoul sy oorsprong gehad het.

“Ek vertolk die rol van ʼn vrou wat soveel verwerping beleef het in haar huwelik en wat ten einde besluit het om haarself weer te gaan vind. Die tema van transformasie wat my vrouebediening, KeeperSoul, fasiliteer, word so goed saamgevat in hierdie video wanneer sy met soveel liefde ontvang word in ʼn nuwe tuiste wat die vroue vir haar kon skep.”

Sy het tydens ʼn vorige besoek aan Suid-Afrika haar liefde vir Afrikaans aan Maroela Media benadruk.

“Ek is trots om te sê dat hulle Afrikaans en ons kultuur so goed ken. Ons het ʼn reël in ons huis dat Afrikaans om die etenstafel gepraat moet word. Hulle kry hier en daar nog ʼn woordjie of twee verkeerd, maar ek is eintlik baie trots op hulle,” het sy oor haar kinders se liefde vir Afrikaans vertel.

  • Vir meer inligting oor KeeperSoul, besoek hierdie webwerf.

Kyk “Wind het kom waai” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.