Nuwe Saarkie-enkelsnit geïnspireer deur inperkingstyd

Lila Botha, Adèle Fouché en Mjön van Blommestein van Saarkie. (Foto: Willem Foster)

Tydens Vrouemaand hou die vrouerockgroep Saarkie die evasgeslag se naam hoog met die uitreiking van ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Reënweer”.

Die snit is tydens die eerste vyf weke van die inperkingstydperk deur die groep se eie Adelè Fouché geskryf.

“Tydens die inperking het die paaie saans ewe skielik stil geword. Die geraas van motors is vervang deur naggeluide,” verklap die meisies oor die inspirasie agter die lied.

“Almal wil iemand naby aan hulle hê. Die inperkingstydperk het ons fokus verskuif na die dinge wat belangriker is as die gejaag van die alledaagse lewe.”

“Reënweer” bou voort op die unieke rock-klank waarvoor die trio bekend is. “Almal hou daarvan om te cuddle as dit reën. Dit is lekker om naby aan iemand van wie jy hou te wees as die donker wolke nader kom,” verduidelik die groep.

“Die liedjie moet luisteraars wegvoer na die eerste paar weke van die inperking, toe niemand ʼn wekker gestel het nie, die natuur was al wat jy saans kon hoor en jy saam met jou geliefde kon kos maak. Na enige goeie herinnering van hierdie tyd.”

Adèle Fouché, Lila Botha en Mjön van Blommestein van Saarkie. (Foto: Willem Foster)

Saarkie bestaan uit Adèle Fouché (kitaar- en mondfluitjiespeler, voorsanger en liedjieskrywer), Lila Botha (tromspeler en agtergrondsanger) en Mjön van Blommestein (baskitaar-, ukulele- en mondfluitjiespeler, agtergrondsanger, en mede-liedjieskrywer). Hulle vier vanjaar hul 11de bestaansjaar en word beskou as een van die suksesvolste vrouerockgroepe in die land.

Saarkie het bekendheid verwerf met hulle energieke elektries-akoestiese styl en is deur die jare vir verskeie Ghoemas en Samas benoem, onder meer vir beste rockalbum van die jaar, beste groep of duo van die jaar en groep van die jaar.

Die uitreiking van “Reënweer” is net die begin van baie nuwe en opwindende dinge vir dié groep, wat verklap dat hulle gedurende hierdie stil tyd druk besig was met die skryf van nuwe musiek, regstreekse konsertopnames en vele meer.

ʼn Eksklusiewe reeks Saarkie-handelsware sal ook binnekort aanlyn te koop wees. Die inperking het ons baie goed behandel. Hoewel ʼn mens soms voel dat dit nou moet end kry, is dit ʼn wonderlike geleentheid om jouself weer te vind en nuwe uitdagings aan te pak,” meen die trio.

Die musiekvideo vir die liedjie sal einde Augustus uitgereik word.

“Reënweer” is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.