Onse Mimi se goue jare

Mimi Coertse in konsert (Foto: YouTube)

In 2007 is die verhaal van die alomgeliefde en -bekende operasangeres, Mimi Coertse, deur die skrywer, Ian Raper, op papier verewig toe die boek ’n Stem vir Suid-Afrika: My storie, soos vertel aan Ian Raper op die rakke verskyn het.

Dié uitmuntende sangeres se lewe en loopbaan is opnuut gevier met ’n spoggeleentheid wat Sondag 12 Junie op Coertse se 90ste verjaardag by die Voortrekkermonument in Pretoria plaasgevind het.

“Ek het gesing as die toiletwater spoel, en verduidelik dat dit my orkes was. Ek het die ketting aanhou trek om die musiekbegeleiding aan die gang te hou; die ander wat daar wou inkom, moes maar wag. Dit was vir my eenvoudig en vanselfsprekend: ek gaan sing! By alles het ek geneurie of gel-la-la. Gelukkig het dit algaande duidelik geword dat die stem reg was,” lui ’n uittreksel uit die einste boek.

Dié sangeres het deur die jare heen diep spore in die harte van Suid-Afrikaners getrap.

Op 12 Junie 1932 is Coertse in Durban gebore. Daar was reeds twee seuns in die huis: een 12 en die ander 14 jaar oud.

Hoewel haar ouers akademiese mense was sonder die goue stemme soos die een wat later so kenmerkend aan hul dogter sou klou, het sy en haar boeties steeds met ’n liefde vir musiek grootgeword.

Sy het agter die klawers ingeklim nog lank voordat skoolbanke in haar visier was.

Op sewejarige ouderdom het sy “Mammie, liefste Mammie” in die Germistonse NG kerksaal by ’n Moedersdagdiens gesing. Dit was die begin van nog talle optredes wat dié sangeres, na wie almal in daardie stadium as Shirley Temple se ewebeeld verwys het, opgevoer sou word.

Mimi Coertse saam met haar seun Werner, skoondogter Joline en kleinseun Werner by die viering van haar 90ste verjaardag. (Foto verskaf deur die FAK)

Jare later het sy noukeurig en gereeld radio geluister, pen in die hand besig om aantekeninge te maak van dit waarvan sy hou.

Terwyl sy in 1949 besig was om te studeer, het sy die eerste keer vir Maria Callas oor die radio hoor sing. Die volgende dag het sy die radiostasie gebel om te hoor wie dit was wat die “Casta Diva”-aria uit Bellini se opera Norma gesing het. Jare later, in Januarie 1962, sou sy self die naamrol in daardie opera vertolk, en wel in Graz, Oostenryk.

Coertse het haar hoërskooljare aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg deurgebring.

Sy het gedurende dié jare musiekopleiding ontvang en aan talle kunswedstryde deelgeneem. Sy het gedurende hierdie jare vir alles, behalwe sang, toekennings ontvang.

Op 30 Augustus 1951 het Coertse op 19-jarige ouderdom vir die eerste keer in die Plastic Theatre opgetree. Dít boonop saam met wyle Gé Korsten.

Ná talle optredes het Coertse haar tot die onderwys gewend. In haar dagboek het sy geskryf: “Sang, en dis al wat lewe is!” en ook: “Wat bly daar vir my oor in my lewe? My sangloopbaan – ag, en alles wat wonderlik is.”

Die vreemde het egter met aantreklikheid vir die opkomende operasangeres gewink.

Sy het met verskeie optredes geld begin insamel om oorsee te kan reis sodat sy hopelik ’n internasionale sangloopbaan van stapel kon stuur.

In 1953 word dié droom ’n werklikheid toe sy en haar bruidegom, Dawid, met die Arundel Castle na Southampton gevaar het.

Mimi Coertse langs ‘n standbeeld van haarself (Foto: Wikipedia)

Drie jaar later, op die ouderdom van 23, het sy ’n vaste betrekking by die Weense Staatsopera gehad.

Haar loopbaan het hierna verskillende hoogtes bereik. Haar naam was onder meer sinoniem met haar rol in Mozart se Die Towerfluit. Hierin het sy “Koningin van die nag” gespeel.

Uiteindelik het Coertse hierdie rol tussen 1955 en 1962 altesaam meer as 500 keer vertolk, op verskeie plekke, in vier tale.

In Oktober 1966 is Mimi Coertse deur die Oostenrykse Bundesminister as Kammersängerin vereer, die eerste Suid-Afrikaner wat hierdie toekenning ontvang het.

In haar lewensverhaal ʼn Stem vir Suid-Afrika: My storie, soos vertel aan Ian Raper sê Mimi Coertse:

“Vir die talle huldigings en toekennings wat ek ontvang het, is ek baie dankbaar, veral teenoor my gehore en ondersteuners wat my optredes en opnames saam met my geniet het. My bede is dat my sang iets bly toevoeg tot lewens, en dat my lewensverhaal jong Suid-Afrikaanse sangers sal motiveer.

“Ek kan afsluit met die woorde van Bob Dylan, ’n ander sanger, uit ’n ander genre en tydperk, maar steeds in die kol:

If you don’t believe there’s a price

for this sweet paradise,

remind me to show you the scars.

  • Inligting vir hierdie artikel is verskaf deur Theresa Papenfus, die stigter van Litera Publikasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.