Orrelis improviseer ‘The Phantom of the Opera’ in Aardklop-uitvoering

Zorada Temmingh (Foto: Nardus Engelbrecht)

Zorada Temmingh word as een van Suid-Afrika se voorste orrel-improviseerders bestempel en op Sondag 6 Augustus kan liefhebbers van klassieke musiek haar uitvoerings eerstehands ervaar.

Die uitvoering Phantom of the Opera met Zorada Temmingh word deur Momentum Beleggings Aardklop Aubade by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria aangebied.

Phantom of the Opera speel in ʼn operahuis af, waar die Phantom self agter die orrel inskuif. ʼn Klankbaan wat op orrelmusiek gegrond is, is ʼn treffende herverbeelding van die stuk.

Gehore sal tydens dié Aardklop-vertoning na die fliek kyk terwyl Temming op ‘n verskeidenheid bekende 19de-eeuse operamusiek – arias en kore, wat ʼn intertekstualiteit tussen die oorspronklike aria en die huidige situasie in die rolprent  teweegbring – improviseer. Die betrokke arias en ballette uit Gounod se Faust word gespeel wanneer hulle in die fliek voorkom.

Ander komponiste se werk wat uitgevoer word, sluit Wagner en Verdi, Saint-Saëns en Offenbach, Puccini en Bellini, en Donizetti in. Sommige van die musiek is Temmingh se eie werk, soos die Phantom-tema met sy verrassend statiese akkoorde saam met virtuose lopies op die pedale.

Temmingh was die eerste Suid-Afrikaner wat ʼn klankbaan op orrel geïmproviseer het terwyl die gehoor na ʼn stilrolprent kyk. Dit was op die 1925-rolprent, The Hunchback of Notre Dame, en vir dié uitvoering het Temmingh in 2006 ʼn spesiale KKNK Kanna ontvang vir haar grensverskuiwende bydrae tot klassieke musiek.

Die konsert begin om 11:00. Kaartjies vir die vertoning kos R190 en R150 en kan by Ticketpro bespreek word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die Aardklop Aubade-konsertreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.