[Resensie] Laurika Rauch – ‘Die reis’

laurika-rauch-die-reis

Laurika Rauch se jongste album getiteld ‘Die reis’. Foto: Verskaf.

Sedert haar debuutalbum in 1979 verskyn het, het Laurika Rauch ’n legende van Afrikaanse musiek geword.

Twee jaar nadat sy haar laaste album, Wals, wals Willemien, vrygestel het, is sy terug met haar jongste vrystelling, Die reis, wat nie net splinternuwe snitte bevat nie, maar ook nuwe opnames van ’n paar van haar vorige treffers.

Die eerste snit, “Hoeveel ek van jou hou”, is die Afrikaanse weergawe van ’n Nederlandse komposisie, waarvoor haar man, Christopher Torr, die Afrikaanse woorde geskryf het. Die eerste van die bekende snitte waarvan ’n nuwe opname ingesluit is, is André Swiegers se komposisie, “Blou”, wat Laurika oorspronklik op haar album Stuur groete aan Mannetjies Roux opgeneem het. Loki Rothman sing saam met haar, en dié nuwe opname maak dat ’n mens van voor af daarna luister. Die volgende snit is nog ’n bekende een, naamlik “Ek het ’n huisie by die see”, wat oorspronklik op die album Encore Laurika voorgekom het. Dit is ’n gedig van HA Fagan wat deur Laurinda Hofmeyr getoonset is. Hierdie opname klink baie anders as die oorspronklike een, en dit behoort weer gewild te word.

Die Heuwels Fantasties het ’n groot treffer met “Klein tambotieboom” gehad; Laurika sing dit hier saam met hulle, en dié nuwe opname sal maak dat dit ’n groter gehoor bereik. Die feit dat dit by die nuwe FAK-sangbundel ingesluit is, help natuurlik ook. Dit moet beslis een van die enkelsnitte vanaf die album wees.

Laurika sing “Ek het” saam met Bok van Blerk; dit het aanvanklik op Bok se album Sing Afrikaner sing voorgekom. Gian Groen se komposisie “Vier seisoene kind” was die titelsnit van een van Laurika se vorige albums, maar sy het besluit om dit weer op te neem. Die volgende snit is Billy Joel se pragtige komposisie “And so it goes”, wat op sy album Storm front voorgekom het. Etienne Steyn het die treffer op haar vorige album, “As ek eendag oud is”, geskryf. Op hierdie album het hy weer ’n bydrae gelewer, maar hierdie keer in Engels. Binky Rose sing “Days” saam met haar.

Die titelsnit is ’n hoogtepunt op die album. Vernette Wessels is die hoofsangeres van Coffeesnobs, tans een van die beter groepe op die Afrikaanse musiektoneel. Sy het dit geskryf, en soos Laurika het sy ’n altstem, wat maak dat dit perfek by haar stem pas. Dit behoort die eerste enkelsnit vanaf die album te word. Bittereinder se hoofsanger, Jaco van der Merwe, het “Die goue uur” geskryf, en hulle sing dit saam met Laurika. Dit is ’n baie goeie snit, maar ’n mens wonder wat Laurika se jare lange ondersteuners daarvan sal sê.

“Die windmeul van jou siel” is ’n Afrikaanse vertaling van Noel Harrison se bekende “Windmills of your mind”, en Deon Opperman het die Afrikaanse woorde geskryf. Dit is ’n baie regstreekse vertaling wat beter klink as wat ’n mens sou verwag.

Die laaste snit op die album is ’n keurspel wat tydens Afrikaans is Groot opgeneem is. Dit bestaan uit haar treffers “Lisa se klavier”, “Op Blouberg se strand”, “Stuur groete aan Mannetjies Roux” en “Hot gates”.

Met hierdie album kom ’n mens maar net weer agter hoekom Laurika soveel jare al een van ons land se gewildste kunstenaars is. Sy het in ’n stadium gesê dat dit vir haar moeiliker word om geskikte liedjies te kry namate sy ouer word, en ’n mens kan verstaan hoekom sy so dink. Aan die ander kant hou sy tred met wat op die musiektoneel gebeur, en haar samewerking met veral Die Heuwels Fantasties en Bittereinder sal maak dat haar musiek ook by ’n jonger gehoor byval sal vind.

Hierdie album word baie sterk aanbeveel en behoort lank baie gewild te wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

Laurika is die beste ek kan heeldag na haar musiek luister sal defnitief die album koop !!!

Kobus ·

Hierdie is mos nou mooi musiek! Dit stel die standaard baie hoog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.