Rita Li wil mense in sokkie-bui sit met jongste treffer

Rita Li. (Foto: Rita Li Musiek/Facebook)

In die motor, op pad huis toe, het Rita Li na sprokiesverhale saam met haar vyfjarige seuntjie geluister. In haar wildste drome het sy nie verwag dat sy inspirasie vir ’n liedjie in dié radio-kinderverhaal sou raakluister nie.

Sangeres, aanbieder, sakevrou en ma. Rita Li is aan’t woeker met talle projekte en het pas haar jongste enkelsnit, “Jakkalsdans”, uitgereik. Haar seuntjie se sprokiesverhaal oor Jakkals en Wolf het in ’n loslittreffer ontwikkel wat Rita Li hoop mense aan die dans sal sit.

“Dit is ’n goedvoel-, gelukkige liedjie wat hopelik op iemand se Vrydag-braai-speellys sal wees en ’n lekker sokkieliedjie sal wees vir Desember wat voorlê,” het Rita Li aan Maroela Media vertel.

Sy is veral opgewonde oor die musiekvideo van die nuwe treffer, aangesien dit by ’n venue in Rustenburg met die naam Jakkalsdans geskiet is.

Rita Li, die ma van twee klein seuntjies, woeker nie net met haar musiekloopbaan nie. Sedert vroeër vanjaar sit sy ook in die aanbiederstoel van haar geselsprogram, Vuurwerke met Rita Li, wat tans op YouTube beskikbaar is.

Op die program verwelkom sy uiteenlopende en interessante gaste wat saam met haar aan uitdagings deelneem, speletjies speel en van hul lewenslesse met haar deel. Haar gaste sluit onder meer die aktrise en aanbieder Angelique Gerber, die motiveringspreker Gretha Wiid, en sakevrou en werklikheidster Rhona Erasmus van die Real Housewives van Pretoria-faam in.

Vuurwerke met Rita Li gaan daaroor dat daar vuurwerke in elkeen van ons se lewens is. Soms is dit ontploffings wat verwoesting saai, ander kere is dit vuurwerke van feesvier.

“Ek wou by mense uitvind wat die vuurwerke in hul lewens is.”

Voordat sy haar tyd ten volle by die vermaakbedryf ingeploeg het, was Rita Li vir tien jaar ’n fisioterapeut.

“Ek was eintlik nog altyd so tuis op die verhoog en voor mense dat dit nie vir my iets was om oor te dink nie, ek het van driejarige ouderdom af gesing en gedans.”

Die tyd wat sy egter as fisioterapeut deurgebring het, was nodig vir haar groei en ontwikkeling as mens, vrou en ma.

“Ek het nodig gehad om deur daardie fase te gaan om te kan wees wie ek vandag is en om dit te waardeer.”

  • Luister boaan die artikel na ’n onderhoud met Rita Li oor haar jongste enkelsnit, ma- en vrou-wees en waaroor sy passievol is.

Kyk na “Jakkalsdans” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.