Rocco gaan met eie program oor radiogolwe betower

Rocco de Villiers se nuwe radioprogram word op Pretoria FM uitgesaai. Foto: Verskaf)

Hoewel die gevierde pianis Rocco de Villiers hoofsaaklik in ʼn wêreld van instrumentale musiek lewe, het Afrikaanse woorde – veral in prosa en poësie – hom nog altyd na aan die hart gelê.

Nou kombineer hy dié liefde met sy klawertalente in ʼn splinternuwe en eiesoortige radioprogram, genaamd Note en woorde, wat Sondae vanaf 2 Julie op Pretoria FM te hoor gaan wees.

Hier nooi hy Afrikaanse swaargewigte én kontemporêre kunstenaars om oor Afrikaanse dig-, skryf- en musiekkuns te gesels. Selfs Afrikaanse komedie word in Note en woorde bespreek.

“Die idee vir Note en woorde is verlede jaar ná die publisering van my debuutdigbundel, Die eiesoortiges, gebore. Ek speel instrumentale musiek, my enigste woorde in my vertonings is die grappies wat ek vertel, en ek wou iets aanpak waarin ek myself in die Afrikaanse prosa en digkunswêreld kon inleef,” vertel hy aan Maroela Media.

Rocco wil mense herinner om die goeie goed uit hul verlede te vier. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

In Note en woorde bring gaste Afrikaanse teks wat hulle na aan die hart lê saam na die radio-ateljee om voor te lees en te bespreek. Natuurlik word daar nie net gepraat nie, maar tussendeur ook op ʼn klawerbord behoorlik getokkel.

Bekendes, waaronder die komediant Radio Raps (Rikus de Beer), Alexa Strachan (Aardklop se feesbestuurder), die aktrise Lizz Meiring en Steve Hofmeyr, sanger, akteur en skrywer, kuier saam in dié reeks.

Ook Afrikaans se geskiedenis van kombuis- na volwaardige taal, en die suiwer praat daarvan, word ʼn gesprekpunt.

Pretoria FM-luisteraars kry selfs die geleentheid om hul eie gedigte of skryfwerke in te stuur, wat deur die betrokke kuiergas voorgelees sal word.

“Dit is eintlik ʼn viering van die Afrikaanse taal en ek het gaste vanuit ʼn wye spektrum gekies waarmee oud en jonk kan vereenselwig. Dit is modern en ek oordeel niemand wat op die program kom nie. Jy kom met wat jy in glo in die taal en hoe jy dink ons dit beter kan maak en volhou.”

Dit is nie die eerste keer wat Rocco sy lyf aanbieder hou nie, maar hy beklemtoon dat hy nog nooit iets van hierdie skaal aangepak het nie. Alles van die konsep en inhoud, insluitend die gastelys, is deur hom gekies en opgestel.

“Hierdie is ʼn ander tipe handskoen wat ek moet aantrek. Ek kan nie sit en oor myself babbel nie, wat vir my fantasties is. Ek klim behoorlik in die aanbiederstoel en is in beheer van die gesprek, wat vir my ʼn heerlike nuwe uitdaging is.”

Note en woorde se episodes word vooraf, maar in die oomblik 100% regstreeks in die ateljee opgeneem en nie geredigeer nie, iets wat vir Rocco baie belangrik was.

“Ek is baie dankbaar dat Pretoria FM my vertrou het en totale vrye teuels gegee het. Die belangrikste was dat daar jonk en oud by hierdie gesprek rondom Afrikaans betrek word en dat dit opreg moet wees.”

Hy hoop dat Note en woorde mense sal toelaat om hul eie idees en sieninge rondom Afrikaans te evalueer.

“Taal is ʼn lewendige ding wat groei en verander. Ek besef ons taal se verlede het kneusplekke, maar ek wil hê mense moet na elke episode goed en trots voel op Afrikaans, en besef dat dit gevier mag word.”

  • Note en woorde word vanaf 2 Julie om 17:00 op Pretoria FM (102 FM) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.