Rugbyspeler verruil tokse vir mikrofoon ná depressiestryd

JP Ellard op die verhoog. (Foto: Facebook/JP Ellard)

Sy droom was om eendag sy land in ʼn groen-en-goue trui op die rugbyveld te verteenwoordig, maar die sanger Ellard se lewenspad het hom nou eerder na die verhoog gelei, met sy eerste enkelsnit, “Liefde brand”, wat pas uitgereik is.

Dié nuweling in die plaaslike musiekbedryf, wie se regte naam JP Ellard is, vertel dat hy na die liriekpen gedwing is weens sy mislukte rugbyloopbaan, maande van dwelm- en drankmisbruik, depressie en angs.

Die resultaat is “Liefde brand”, ’n melancholiese liefdeslied wat opgeneem en vervaardig is deur Darryl de Lange, ’n voormalige lid van Mean Mr Mustard.

“Ek het dié snit al ’n paar jaar gelede geskryf, toe ek in ’n put van ellende was. Ek het aan dáárdie vrou gedink met wie ek eendag gaan trou, aan ons eerste ontmoeting en hoe dit moet voel om veilig by iemand te wees,” vertel die 29-jarige sanger van George in die Wes-Kaap.

Dié selferkende “boereseun” vertel dat hy destyds gevoel het asof hy nêrens inpas nie en “nie een van die gewilde kêrels op skool was nie.” Sy soeke na aanvaarding het hom egter sy rugbyloopbaan gekos.

Ellard se eerste enkelsnit, ‘Liefde brand’ is onlangs bekendgestel. (Foto: Verskaf)

“Ek wou iewers behoort en daarom het ek dinge gedoen wat nie sosiaal aanvaarbaar was nie. Ek het ná skool vir ’n klub in die Kaap rugby gespeel. Dinge het rof gegaan; tussendeur die oefeninge het ek gedrink en dwelms gebruik. Op 23 was my rugbyloopbaan daarmee heen, en het ek besluit dat ek nie so kan aangaan nie, dat ek nie na dwelms en alkohol moet gryp as dinge moeilik raak nie.”

Ellard glo vas dat musiek sy reddingsboei was en ’n groot rol gespeel het in die veranderinge wat hy in sy lewe gemaak het.

“Ek het aan myself en die verkeerde dinge in my lewe begin werk, en bykans sewe jaar later het ek nog nooit weer my lippe aan drank of dwelms gesit nie. Ek probeer ook om as voorbeeld vir jongmense te dien, iemand waarna hulle kan opkyk en besef dat hulle iets soets van ’n bitter situasie kan maak.”

Hoewel hy nie meer op die rugbyveld uitdraf nie, het hy sy Springbokkleure in skopboks verwerf, en boonop die volksliedere van beide Suid-Afrika én Kanada tydens ’n skopbokstoernooi gesing.

“Dit was vir my ’n groot voorreg om my land met my stem te verteenwoordig.”

Hoewel hy self nog nie sy spesiale persoon ontmoet het nie, is “Liefde brand” vir hom ’n metafoor van hoe ’n verhouding behoort te wees, en dit dra ook ’n positiewe boodskap uit dat die regte persoon iewers op jou lewensreis vir jou wag.

Vir hom kom die kuns van liriekskryf ook uit die diepte van ʼn mens se siel, veral as ʼn mens “eerlik en opreg skryf.”

“Ek glo in liefde, respek, opregtheid, eerlikheid en goeie waardes. Ek weet niemand is perfek nie, en daar bestaan dalk ook nie die perfekte mense nie, maar ons almal kan daarna strewe om elke dag net beter en beter te kan wees.”

Kyk na die musiekvideo vir “Liefde brand” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Daar is so paar wat dit nie in rugby gemaak het nie en toe skielik begin sing het…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.