Sanger Frikkie van Biljon oor ‘klein boerdery in die stad’

Frikkie van Biljon. (Foto: Facebook)

Daar is min dinge wat vir die sanger en liedjieskrywer Frikkie van Biljon soveel vreugde bring soos sy gesin en hulle klein “boerdery in die stad”, soos hy dit noem.

Hy en sy vrou, Corlia, het onlangs sosiale media behoorlik aan die gons gehad met die soet en sappige gewasse wat hulle op hulle erf in Doringkloof, Centurion, oplewer.

Die pa van vier jong spruite vertel hy en Corlia werk reeds sedert hulle in 2011 getroud is saam aan ʼn groentetuin. Hulle het destyds die grootste erf wat hulle met die geld tot hulle beskikking kon koop, aangeskaf en het dadelik aan ʼn groentetuin begin werk.

“Dit was soms suksesvol en ander tye ʼn flop, maar elke jaar wat jy een maak, leer jy iets nuuts. Saam maak ek en my vrou dit werk. Daar is ʼn tevredenheid wat jou tref as jou kinders weet waar kos vandaan kom en hoe om selfonderhoudend te kan wees.”

Oudste dogter Lisa (8) en seun Gideon (6) trek sommer self groente uit die tuin om aan te knibbel wanneer die magies begin grom. Hy skerts dat die driejarige identiese tweelingseuns, Jonathan en Thomas, dikwels vir hom ʼn lemoen of ander gewas aandra wat nog nie ryp is nie.

“Ek en Corlia spot gereeld en sê ons mag baie dinge van ons lewe sê, maar ons mag beslis nie sê dit is vervelig nie,” sê hy.

Frikkie van Biljon en sy gesin lewer gereeld vragte vol groente uit hulle eie tuin in die stad op. (Foto: Facebook/Frikkie van Biljon)

Hy vertel hy is ʼn plaasjapie in murg en been wat sy liefde vir plant en kweek by sy pa, ʼn boer, gekry het. “My ouers het altyd ʼn groentetuin gehad; so ons het daarmee groot geword. Toe ek in die stad moes kom werk, kon ek op daardie manier ʼn balans vind tussen die stadslewe en die plaaslewe.”

Van Biljon vertel hulle het die groentetuin effens afgeskeep kort na die tweeling se geboorte, maar die inperkingstydperk het hulle gehelp om weer hulle passie vir dié plasie in die kleine te kweek.

“Dit is baie pret. Ek doen die infrastruktuur en beplanning van die tuin en Corlia is die versorger, wat seker maak die plante word natgelei.”

Hy vertel die inperking het hulle ook tot die besluit gelei om die kinders voltyds tuis te onderrig aangesien Corlia van beroep ʼn onderwyseres is.

“Die groentetuin is dus nou deel van die kinders se daaglikse kurrikulum. Dit is vir ons belangrik dat die kinders kan sien hoe groei goed en waar dit vandaan kom, want ons glo dat jy op die einde van die dag ʼn rentmeester moet wees van wat jy het op aarde. Dit is belangrik dat hulle sien ons kry nie groente van rak af in die supermark nie.

“Hulle help ons al mooi om te oes en hardloop sommer self met die mandjie om te gaan vye, ʼn groot gunsteling, pluk. Dit dra by tot die gevoel van vryheid in die stad en hulle leer soveel uit die proses wat vir ons bevredigend is.”

Die Van Biljons het oor die afgelope paar seisoene omtrent 38 verskillende gewasse, van lemoene, vye, turksvye, suurlemoene, granate tot pers wortels, gewone wortels, rooi rissies, spanspekke en waatlemoene, gekweek.

Frikkie van Biljon se drie seuns, die tweeling Jonathan en Thomas en die sesjarige Gideon (middel) spog met waatlemoene uit die gesin se groentetuin. (Foto: Facebook/Frikkie van Biljon)

“Ons gee baie kos weg, want dit is net te veel vir ons om as gesin op te eet. Lemoenpampoentjies byvoorbeeld kan maklik ʼn oes van ʼn kruiwa vol per week oplewer; so hope daarvan word aan familie en vriende uitgedeel. Ons sit ook gereeld suurlemoene in ʼn krat buite op die straat met ʼn bordjie wat aandui dat verbygangers vir hulle daarvan moet vat,” verduidelik hy.

Die Van Biljons het ook met ʼn klein hoenderbedryf gewoeker totdat voëlgriep onlangs in Suid-Afrika uitgebreek het.

“Ons het sowat 18 en ʼn half dosyn eiers per maand opgelewer met die agt lêhenne wat ons gehad het. Dit is ongelooflik baie kos en ons kon dit ook nie as gesin opeet nie,” sê hy.

Wanneer hy nie besig is met sy werk in die IT-bedryf of om saam met sy kinders in die groentetuin te woeker nie, skryf hy musiek. Sy jongste enkelsnit, “In die oomblik”, het hy saam met sy stemafrigter Yolanda Bekker en vervaardiger André Hurter geskryf.

Vye is ‘n gunsteling vir Frikkie se kroos. (Foto: Facebook/Frikkie van Biljon)

“Dit was vir my ʼn uitdaging, want ek is gewoond daaraan om ballades te sing. Ek was eintlik self ʼn bietjie moeg vir my eie musiek en wou iets meer opgewek doen. Ek hou nie van sogenaamde sokkie-bokkie-musiek nie en probeer om steeds betekenisvolle lirieke te skryf.

“Ek het ʼn filosofie waarby ek probeer bly en dit is dat eenvoud die mees komplekse ding is om te bereik. Die eenvoudige dinge leer vir ons die meeste. Dit is ook vir my belangrik dat my temas met ʼn ondertoon van geloof ondersteun en versterk word sodat ek ʼn universele boodskap aan my musiek kan koppel.”

Hy deel ook sy raad vir voornemende tuinmakers: “As jy hou van lekker eet in die somer, maar alles is te duur, kry ʼn pot, plant ʼn saadjie en jy sal verras wees oor hoe eenvoudig en vervullend dit is om jou eie kos te kweek. Dit maak ook daai spanspek of turksvy aansienlik goedkoper – en kort voor lank het jy sommer baie om aan te smul.”

Hy lag wanneer hy sê dat die stryd reeds half gewonne is as jy kan onthou om jou plante gereeld nat te lei.

“Ek sing nie vir die plante nie en het ook nie groen vingers nie. Die resep om plante lewendig te hou, is eintlik baie eenvoudig, al is daar klein detail soos dat party plante nie op die blare natgemaak moet word nie en eerder direk op die grond. Die beginsel is egter maklik: Onthou die water.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Puik. Min dinge so bevredegend soos jou vingers in die grond, en om dinge wat jy geplant het te sien groei.

Frieda ·

Dis goed om te lees!! Hou so aan ek het ‘n hele laning bome met saadjies begin en dit is nou groot met baie skadu en ook groot pienk blomme .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.