Sanger vra hulp om honger te stop

‘n Skermgreep uit dié musiekvideo.

Die Afrikaanse sanger Willem van der Ryst se jongste musiekvideo is spesiaal aan Helpende Hand opgedra. Dié video maak mense van die hongersnood in Afrikaanse gemeenskappe bewus.

Die sanger, bekend vir sy treffers “Knipmes-aand” en “Buffelram”, was al op verskeie radiostasies se trefferlyste. In samewerking met Solidariteit Helpende Hand wil hy nou sy talent gebruik om aan die gemeenskap terug te gee. Met sy jongste lied, “Gee ʼn bietjie”, wil hy mense inspireer om mekaar te help.

Van der Ryst was saam met Helpende Hand toe beeldmateriaal vir “Gee ʼn bietjie” geskiet is. Hy het eerstehands ervaar wat die #StopHonger-voedingsprojek doen om daagliks duisende kleuters landwyd van ʼn bord voedsame kos te voorsien.

Hy sê die opname van die video het gemengde gevoelens in hom laat ontstaan.

“Dit was so lekker om die kindertjies so gelukkig te sien. Ek het ʼn interessante ding waargeneem: Al is hulle nie so bevoorreg soos ander kinders nie, glimlag hulle die heeltyd – dit verg nie baie om hulle gelukkig te maak nie. Die grootste ding waarna hulle daagliks uitsien, is die bord kos wat hulle by hul kleuterskool kry. Dit is hartverskeurend hoeveel kinders van ʼn ete by die skool as hul primêre ete vir die dag afhanklik is.”

#StopHonger sorg tans dat minstens 8 000 behoeftige kleuters en hul gesinne in Afrikaanssprekende gemeenskappe kos kry.

“By Helpende Hand is hongersnood onder ons mense ʼn alledaagse gesprekspunt. Dit hang soos ʼn donker wolk oor ons en is iets waaroor ons elke minuut van elke dag dink.

“Ons dink ook aan die feit dat ons nie almal kan help nie – ons kan maar net bietjie vir bietjie help. Om ʼn gemeenskap te mobiliseer om mekaar te help, is die sleutel tot ʼn volhoubare oplossing,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand.

“Met die bekendstelling van ‘Gee ʼn bietjie’ deur Vonk Musiek, vat ons hande en poog ons om die gemeenskap te mobiliseer om hulle harte en beursies vir die kleuters oop te maak. Ons vra die gemeenskap om ondersteuners van ʼn maatskaplikgebaseerde organisasie te word wat gemeenskappe bemagtig en help om tot hul volle potensiaal te ontwikkel.”

Só kan jy help om hongersnood hok te slaan:

  • Word ʼn ondersteuner van Helpende Hand en maak ʼn maandelikse bydrae van jou keuse. Helpende Hand se nuwe e-mandaat maak die aansluitproses maklik. Jy kan in ʼn japtrap en in die gemak van jou huis aansluit sonder dat iemand jou skakel. Besoek Sluitaan.co.za en volg die stappe.
  • Vir ʼn eenmalige finansiële bydrae kan jy Helpendehand.co.za/kosblikkie besoek, of kreatief wees en ʼn kosblikkie vir ʼn behoeftige kleuter pak.
  • SMS die woord STOP na 45763 (SMS kos R2).

Sien die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.