Sharoney stof ou treffer af ter viering van dekade in musiekbedryf

Sharoney vier ‘n dekade in die musiekbedryf. (Foto: Ruan Tennant Photogaphy)

Die borrelende sangeres Sharoney blaas nie nou net nuwe lewe in haar tien jaar oue debuutenkelsnit nie, maar trek boonop as loopbaangedrewe vrou ook ʼn nuwe baadjie in die korporatiewe wêreld aan.

“Een keer”, wat in 2014 uitgereik is, is onlangs ter viering van haar tiende jaar in die musiekbedryf heruitgereik en is haar manier om haar ondersteuners te bedank vir hulle bydrae tot haar loopbaan.

Daarmee saam beklink sy haar toetrede tot ʼn nuwe beroep as bemarkings- en geleentheidskoördineerder vir ’n bekende motorhandelsnaam.

“Dit is beslis nie die einde van my musiekloopbaan nie. Ek staan nou net eenvoudig gelyktydig met ʼn voet in beide bedrywe,” vertel die 28-jarige, wat onlangs ʼn nagraadse kwalifikasie in mediastudies voltooi het, aan Maroela Media.

“Die plaaslike musiekbedryf is baie onvoorspelbaar, en iemand anders is kort-kort die nuwe flavour van die maand, so ʼn mens moet diversifiseer. Ek is ʼn realis en wou boonop alles wat ek in my studies geleer het begin toepas.”

Sharoney, wat afkomstig is van Springs aan die Oos-Rand van Gauteng, sê sy was reeds van kindsbeen af versot op sang en het as tiener gedink sy wil ʼn musiekloopbaan najaag.

Afrikaanse musiek het ook gereeld in haar ouerhuis weerklink én veral in die motor op pad kus toe vir seevakansies.

“Ek het nooit geweet hoe ek dit gaan laat werk nie, maar dit het in my skoot geval toe die groep ADAM in my dorp kom sing het en ek die voorvertoning moes doen. Ek het nie gedink iets gaan daarvan kom nie,” het sy destyds aan Maroela Media vertel.

Die Maandag ná die vertoning het sy egter ʼn onverwagse oproep ontvang van Hugo Ludik, sanger en bekende musikant en liedjieskrywer, wat die bal aan die rol gesit het vir haar loopbaan as sangeres.

Twee albums, talle enkelsnitte en benoemings vir Ghoema- en Huisgenoot Tempo-toekennings het in die jare daarna gevolg, maar sy bieg dat “Een keer” altyd ʼn spesiale plek in haar hart sal hê. Daarom die besluit om dit weer op te neem.

Die liedjie is in 2013 deur Hugo geskryf en die jongste weergawe is deur Ferdinand Skead aangepas om “elke sokkieliefhebber se voete behoorlik te laat jeuk”.

Nes haar stem is haar lewensuitkyk tien jaar later meer volwasse, en volgens Sharoney het dit nuwe betekenis aan die lied gegee.

“Wanneer jy jonk is dink jy dat liefde aan ʼn persoon gekoppel moet word, maar namate jou reise om die son vermeerder, verander die gesig van liefde. Nou verwys die lied vir my na daardie een ding in die lewe wat altyd joune sal bly wanneer dit eers in jou hart kom nesskrop. Dis presies hoe ek oor my musiekloopbaan en al sy fasette voel.”

Musiek bly egter haar grootste liefde en drome vir optredes by die groot Krone-konsert of voor buitelandse Afrikaanse gehore word steeds in haar hart gekoester.

“Die meeste optredes val gelukkig oor naweke of vakansietye, so die balans tussen die twee is nog maklik om te handhaaf. My hart sal altyd hunker om voltyds stories deur musiek te vertel, maar ek sê altyd ʼn mens moet doen wat jy moet om te kan doen wat jy wil.”

Haar nuwe beroep het die selferkende “kleindorpiemeisie” boonop na Pretoria toe laat verhuis. Wanneer dit by liefde kom, skerts sy dat die “ridder op die wit perd nog nie kom klop het nie”.

“Ek is baie doelgedrewe en fokus nou eers op my werk, maar daardie hoofstuk van my lewe lê nog vir my voor.”

Sy glo ook nog altyd daarin om elke geleentheid met beide hande aan te gryp en wil juis haar nuwe loopbaan met dieselfde geesdrif takel.

“Die musiekbedryf verwyder gelukkig elke bang haar van jou kop af. My geloof lê ook steeds in die belofte van Jeremia 29:11, en deesdae besef ek dat dié planne baie groter is as wat ek vir myself kon beplan. ʼn Mens weet nooit wat die toekoms vir jou inhou nie.”

  • Luister na die nuwe weergawe van “Een keer” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Melanie ·

Jy is pragtig! Gaan groot en mag goedheid en guns jou volg!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.