Skryf nou in vir Aitsa-toekennings

Die Aitsa-toekennings in 2021. (Foto: Verskaf)

Die Aitsa Trust het pas bekendgemaak dat inskrywings vir vanjaar se Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings amptelik op Dinsdag 31 Mei open.

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust, sê die Aitsas is nou ʼn jaarlikse instelling op die plaaslike musiekkalender.

Volgens die organiseerders het die reusesukses van die eerste geleentheid in Oktober 2019 en positiewe terugvoer van kunstenaars, platemaatskappye, vervaardigers en die publiek bevestig dat dit presies is wat die bedryf nodig het en daarom is die Aitsas hier om te bly.

“Ons gaan op die vorige jaar se suksesresep voortbou deur die kompetisie oor ʼn tydperk van 12 weke op radio en aanlyn platforms uit te saai. So kry die publiek die geleentheid om deel te neem en vir hulle gunstelingkunstenaars en -musieksnitte te stem,” sê Spies.

Die Aitsa-musiektoekennings het ten doel om ʼn onafhanklike geleentheid te skep waartydens die room van die rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hul uitmuntende prestasie beloon kan word.

Afrikaanse kunstenaars, liriekskrywers en vervaardigers van musiekproduksies sal vanjaar weer in verskeie kategorieë kan inskryf. Die kategorieë is:

  • Kunstenaar van die jaar
  • Afrikaanse liedjie van die jaar
  • Nuweling van die jaar
  • Geestelike liedjie van die jaar
  • Alternatiewe/rock-liedjie van die jaar
  • Kletsrym- /hip-hop-liedjie van die jaar
  • Boeremusiekliedjie van die jaar
  • Instrumentale liedjie van die jaar
  • Luisterliedjie van die jaar
  • Popliedjie van die jaar
  • Musiekvideo van die jaar
  • Liedjieskrywer van die jaar
  • Vervaardiger van die jaar

Kunstenaars kan self inskryf of kan deur hul onderskeie platemaatskappye ingeskryf word.

Die Aitsa-toekenning. (Foto: Verskaf)

Die inskrywings sal deur ʼn paneel kundiges in die musiekbedryf beoordeel word en ʼn maksimum van ses finaliste sal in elke kategorie aangewys word.

Die paneel vir 2022 bestaan uit agt beoordelaars: verteenwoordigers van Coleske Artists, Vonk Musiek, Universal Musiek en Sony Musiek, asook vier onafhanklike beoordelaars wat Tinus Esterhuysen, Carlé Weber, Gisela de Villiers en Christiaan (CJ) de Swardt insluit. Die beoordelingsproses word deur die Aitsa Trust se ouditeur, TGA Ouditeure, gemonitor.

Op 29 November sal die wenners tydens ʼn spesiale geleentheid bekendgemaak word en dit sal ook regstreeks op radio en sosiale platforms wêreldwyd uitgesaai word.

Kategoriewenners ontvang prysgeld ter waarde van R10 000 en ʼn trofee wat spesiaal vir die Aitsas ontwerp is deur die bekende beeldhouer Francois Visser.

Inskrywingsvorms met volledige besonderhede is op Pretoria FM se webwerf beskikbaar.

Inskrywings in alle kategorieë open op 31 Mei en inskrywings sluit om middernag op Donderdag 30 Junie. Alle nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 sal in aanmerking kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.