Snotkop-temalied pryk op Top-20

Snotkop. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die Afrikaanse treffermaker Snotkop se jongste enkelsnit, “Skrik vir niks”, maak vandeesweek sy toetrede tot die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 20ste posisie.

“Skrik vir niks” is ook die temalied van die sanger se nuwe dokumentêre rolprent met dieselfde titel.

Maroela Media het vroeër berig dat die sanger, wie se regte naam Francois Henning is, ʼn kameraspan gehad het wat hom vir ʼn geruime tyd vir dié nuwe projek gevolg het.

Hy wil met sy rolprent mense van alle ouderdom- en portuurgroepe inspireer om nuwe hoogtes te bereik en het destyds skertsend bygevoeg dat aanhangers dan sommer ʼn blik op sy lewe ook sal kry.

“Dit is beter om eg te wees. Om vir jouself te dink, en om net jouself te wees. En as jy nie hou van die storie wat vir jou geskryf word nie, skryf jou eie,” vertel hy oor dié fliek, wat eersdaags op die kassie te sien sal wees.

‘n Skermgreep van Lianie May en Fatman se nuwe musiekvideo.

Fatman en Lianie May het pas ook ʼn nuwe lied, “Ditjies en datjies”, bekend gestel.

Dié splinternuwe oorwurm se musiekvideo – waarin die twee kunstenaars ʼn paartjie speel wat mekaar speels oor hul giere terg – het binne vier dae reeds meer as 82 000 kykbeurte op YouTube.

Barto se “Impulsief” spring ook vandeesweek van die 20ste na die 2de posisie, terwyl Dodo Nyoka steeds koning van dié trefferparade is met sy lied “Foto’s”, wat vir die vyfde week agtereenvolgens die no. 1-posisie beklee.

Daar is ook tien liedjies wat vandeesweek hul plek verloor.

  1. Dodo Nyoka – “Foto’s”
  2. Barto – “Impulsief”
  3. Bernice West – “Lyfie”
  4. Barto – “H2Oë”
  5. Eloff – “Witblits”
  6. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
  7. Eloff – “ATKV”
  8. Prop – “Kwaaitjie”
  9. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  10. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  11. Eloff – “Johnnie Blou”
  12. Riaan Benadé – “Spontaan”
  13. Tasché – “Sal jy vir my wag”
  14. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  15. Riaan Benadé en Jay – “Rowwe bliksem”
  16. Brendan Peyper – “Insomnia”
  17. Riaan Benadé en Ricus Nel – “Haai haai”
  18. Fatman en Lianie May – “Ditjies en datjies”
  19. Juan Boucher – “Dogter”
  20. Snotkop  – “Skrik vir niks”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Steve Hofmeyr bederf aanhangers vandeesweek met ʼn nuwe liefdeslied, “Is jy hier”, waarin hy tegnologie as “liefde se grootste vyand” beskryf.

Hofmeyr sing ook oor die onsekerheid wat tegnologie in verhoudings teweeg gebring het.

“Ons kan nie altyd goed kommunikeer of weet wat die ander persoon in sy of haar boodskap bedoel nie. Ons kan ook nie altyd eers seker wees of hulle luister nie. Hul koppe knik en hul lippe beweeg, maar waar is die waarborge?” sê Steve oor die tema van die nuwe enkelsnit.

Ander liedjies wat ook die afgelope week bekendgestel is, sluit Jakkie Louw se “Plaashond”, Georic Lomas se “Sonskyn”, Jan Bloukaas se “As ek jou hoor lag”, Spoegwolf en Jodi Jantjies se “Erika way”, Kris Ray se “Wat maak hy daar”, Francois van Zyl se “My geheim”, Rudi Claase se “Stout wees” en Eon le Roux se lied, “Altyd”, in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.