Son, swem en SA supersterre by Sun City

ʼn Strandbraai in die somerson terwyl Afrikaans se gunstelingkunstenaars voetstampvermaak verskaf, is binnekort ʼn werklikheid – en dít in die hartjie van Noordwes.

kykNET nooi jou, jou familie en vriende uit na die grootste partytjie van 2022 – die kykNET Somerjol by Sun City.

Dié buitelugkuier vind plaas vanaf Vrydag 16 September tot Saterdag 18 September by die Sun City Valley of the Waves saam met van die grootste name in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Talle kykNET-persoonlikhede en -akteurs gaan ook ʼn verskyning maak.

“Daar was lanklaas ʼn lekker Afrikaanse kuiernaweek by Sun City en dit is ʼn verfrissende manier om buitelugfeeste weer af te skop ná die pandemie,” sê Kurt Darren, mede-organiseerder van die geleentheid.

“Dit is heerlik om kykNET aan boord te hê. Sun City is ook so ʼn ikoniese venue – in die Afrikaanse volksmond is daar mos die sêding ‘Was jy al by Sun City?’,” lag hy.

“Dis tyd dat die jong mense weer beleef wat ʼn ongelooflike plek Sun City is. Daar is werklik iets vir elke lid van die gesin.”

Kurt gaan deur die loop van die naweek saam met Ricus Nel, Refentse, Ray Dylan, Karlien van Jaarsveld, Nádine, Gerhard Steyn, Janie Bay, Loufi, Jay, André Schwartz en Synth Peter optree.

“Daar word ʼn hele speelterrein by die Valley of the Waves gebou. Akteurs van kykNET-sepies soos Getroud met rugby en Binnelanders gaan saamkuier en Virtual Productions gaan sorg vir ongelooflike beligting en ʼn laservertoning. Jy gaan beslis nie verveeld raak nie!”

Vrydagaand skop af met die opsie van ʼn strandbraai in die BBP-gedeelte (volwassenes: R650 pp, kinders onder 12: R250 pp en kinders onder 4 braai gratis) of ʼn kuier in die algemene gebied op die strand (R150 pp – kinders onder 12 kuier gratis).

Op die verhoog is Andre Schwartz, Ray Dylan, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel en Synth Peter te sien. Daar sal Saterdag verskeie aktiwiteite wees waaraan lede van die publiek kan deelneem, so bring gerus die kinders vir ʼn daguitstappie vol pret.

Saterdag se musiekkonsert skop 17:00 af en jy kan verwag om Synth Peter, Gerhard Steyn, Janie Bay, Ray Dylan, Nadine, Jay, Kurt Darren, Refentse, Loufi en Jan Bloukaas op die verhoog te sien.

Kaartjies vir Saterdag kos slegs R295 pp met kinders onder 16 teen R150 pp en kinders onder 4 gratis. Daar is verskeie akkommodasie-opsies beskikbaar vir gaste wat vir die naweek by Sun City wil vertoef. Alle verblyf- en toegangspakkette is beskikbaar op iTickets.

Jy kan ʼn ontbyt op 17 September by The Palace vir vier mense saam met die kykNET-akteurs en aanbieders wen. Die wenner word Vrydagaand 16 September by kykNET Somerjol aangekondig.

Staan ook die kans om ʼn A1-grootte-kykNET-karikatuurskets van die kunstenaars te wen. Die karikature word gemaak deur Martin Schwella van Schink Caricatures. Die wenner word Saterdag 17 September by kykNET Somerjol aangekondig.

Die lootjies vir dié twee kompetisies is ook op iTickets beskikbaar.

Vir meer inligting oor die kykNET Somerjol, gaan na kykNET se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Philip ·

Hoekom tree Steve nie op nie die aanbieding sal net soveel meer belangstelling van die publiek gekry het.

Feite ·

Ek stem saam. Luister nie baie Suid Afrikaanse musiek nie maar Steve Hofmeyer se musiek en stem is iets anders. En dis kommerwekkend dat iemand wat so passievol oor sy Afrikaanse geskiedenis en herkoms so neerhalend behandel word. En nog deur mede Afrikaans sprekendes? Ons boere nasie het in iets verander wat glad nie mooi is nie.

Moedeloos ·

Klink lekker maar sjoe die pryse in vandag se ekonomiese tye is erg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.