Sosialemediafoendi Katinka maak nou ook musiek

Katinka.

Katinka die Kat, bekende sosialemediafoendi en aanbieder van die musiekprogram Klink soos naweek op VIA, kan sanger ook by haar curriculum vitae voeg.

Katinka se debuutenkelsnit, “The Sass”, is Vrydag saam met ʼn treffende musiekvideo uitgereik. Sy vertel die video, wat sedert Vrydag reeds 38 000 keer op YouTube gekyk is, beeld haar persoonlikheid volkome uit.

“Die video was beslis my geleentheid om ʼn bietjie meer ‘ekstra’ te wees as wat ek in my alledaagse lewe kan wees,” vertel Katinka, ook ʼn videograaf en fotograaf.

Sy het al bekendes soos Francois van Coke en sy gesin, die netbalspeler en aanbieder Vanes-Mari du Toit en haar man, die rugbyafrigter Matthew Proudfoot, asook die aktrise Simoné Pretorius en haar man, Andries, agter haar lens gehad.

“Ek wou met die konsep van die video so ‘Katinka’ moontlik wees. Die grimering, die klere, die dans – dit is 100% ek.”

Die regie is deur Wesley JVR behartig en Katinka het gehelp met die vervaardiging. “Ek is gewoond aan die kamera en weet hoe dit werk omdat ek self vervaardiging doen. Dit is wat die ervaring so lekker gemaak het, want ek was so gemaklik en almal wat saam met my gewerk het, het dit so gemaklik gemaak.”

Die hip hop-dansers is lede van die Lee Miller Dans Academy se geselskap op Mosselbaai. Katinka vertel sy het self jare gelede saam met dié groep gedans en het Lee genader om die danse vir die video te choreografeer.

“Dit is die vreemdste gevoel om ʼn Select Musiek-kunstenaar te wees, want ek het as dogtertjie nooit gedink ek gaan eendag ʼn musikant wil wees nie. Ek voel baie bevoorreg om in hierdie posisie te kan wees.”

Sy vertel sy kom uit ʼn baie kreatiewe familie en haar passie vir die kunste kom van haar ma, die kunstenaar Maria Oosthuizen, se kant van die familie af.

Katinka.

“Ek het myself al van skooldae af uitgedaag om dinge so ʼn bietjie anders aan te pak.”

Sy vertel die idee vir die liedjie het ontstaan toe sy en die skrywers van Select Musiek gesels het oor die woorde wat sy die meeste gebruik. “Ek wou graag iets doen wat my verteenwoordig en ons het baie gepraat oor die gevoel wat die liedjie moes hê.

“Ons het op die woord ‘sassy’ afgekom – vir my beskryf dit iemand wat selfvertroue het, wat weet wat hy of sy wil hê en nie bang is om ʼn ding te sê soos wat dit is nie. Die liedjie het die vermoë om in jou geheue vas te sit lank nadat jy dit gehoor het en dit is wat ek graag wou bereik.”

“The Sass” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.