Spar se ‘Carols by Candlelight’ vier 20ste jaar met arena-konsert

Carols by Candlelight vind vanjaar by die SunBet Arena in Pretoria plaas. (Foto: Verskaf)

Spar en Jacaranda FM se immergewilde jaarlikse Carols by Candlelight-Kerskonsert is terug en gerat om sy 20ste verjaarsdag weer in persoon voor duisende te vier.

Top‑ plaaslike kunstenaars, onder andere Mango Groove se Claire Johnston, Jo Black, Tarryn Lamb en Refentse, sal op 7 Desember die verhoog van die SunBet Arena by Time Square in Pretoria deel vir ʼn konsert wat beloof om die Kersgees behoorlik te laat posvat.

Dié konsert sal boonop reg oor die wêreld gratis op Jacaranda FM se webblad gestroom kan word en op 24 Desember weer uitgesaai word vir diegene wat dit eerder saam met hul gesinne tuis wil geniet.

“Ons het die afgelope twee jaar gekyk hoe topmusikante voor ’n leë arena optree, daarom is hierdie jaar vir ons ekstra spesiaal. Ons vier boonop 20 jaar se vennootskap met Spar en sien uit daarna om die genot van ’n regstreekse konsert weer te beleef,” sê Deirdre King, besturende direkteur by Jacaranda FM.

Toegang vir dié roerende konsert is vanjaar R50 en Spar en Jacaranda FM doen ʼn beroep op aanhangers om hul welwillendheid te betuig en ʼn bykomende  skenking vir die saak te maak. Alle toegangsgeld en bykomende geld wat ingesamel word, sal verseker dat die Good Morning Angels-span vir behoeftige kinders reg oor Suid-Afrika hulle eie nuwe speelgoed kan skenk.

Dié geleentheid het verlede jaar meer as 140 000 mense oor die wêreld heen gelok en net onder R300 000 is vir kwesbare kinders ingesamel.

“Wat ’n mylpaal om ’n 20-jarige vennootskap met Jacaranda FM te vier. Ons is trots om die hoofborg te wees van ’n geleentheid wat topmusikante sien saamwerk in die gees van welwillendheid en om die feestyd in te lei. Die belangrikste deel is natuurlik dat die skenkings wat tydens hierdie ongelooflike geleentheid ingesamel word, verseker dat talle jong meisies en seuns van kinderhuise reg oor Suid-Afrika hierdie Kersfees gewaardeer en spesiaal voel met ’n geskenk van hul eie,” sê Maxine D’Amico, Spar se binnelandse advertensie- en promosiebestuurder.

Konsertgangers kan vanjaar ook uitsien na ʼn Kersmark terwyl die kleingoed ʼn kreatiewe Kersvader-werkswinkel voor die konsert kan bywoon.

Besoek Jacaranda FM se webwerf vir meer inligting oor vanjaar se Carols by Candlelight.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.