‘Suidooster’-akteurs op Kaapse feesverhoog

Coenie de Villiers en Andre Schwartz is te sien in ‘Grensloos’. (Foto: Suidoosterfees/Facebook)

Op Woensdag 26 April skop die 20ste Suidoosterfees in Kaapstad af met ʼn openingskonsert deur Kaapstad se Filharmoniese Jeugorkes en die Nasionale Jeugmusiekstigting.

Die fees word tot Maandag 1 Mei aangebied met ʼn propvol feesprogram wat ʼn verskeidenheid musiek- en teaterproduksies, kindervermaak, woordaanbiedings en ʼn gespreksreeks insluit. Besoekers kan onder meer uitsien na Suidooster Stormsterk 2, ʼn konsert met van die gewildste Suidooster-akteurs op die feesverhoog.

Kunstenaars wat ook by dié fees te sien sal wees, is André Schwartz, Lynelle Kenned, Emo Adams, Brümilda van Rensburg, Edwin van der Walt, Coenie de Villiers, Antoinette Kellermann en Elzabé Zietsman.

Die Universiteit Stellenbosch se koor is die oudste en mees gevierde koor in Suid-Afrika. (Foto: Nanette Evenhuis)

Musiek

Van die musiekproduksies op 2023 se Suidoosterfeesprogram is 20 Musical Moments met André Schwartz, Lynelle Kenned, Emo Adams, Pierre van Heerden en Niël Rademan, House of Rhythm met die Universiteit Stellenbosch Jazz Band, Gloria Bosman en Timothy Moloi, en die ATKV Koorgala met Zanne Stapelberg, Brittany Hope Smith, Conroy Scott, Nina Schumann en Megan-Geoffrey Prins.

Daar is ook ʼn operavertoning, L’inganno felice, wat in Kunstekaap se Operahuis aangebied word. Nog ʼn opwindende toevoeging tot die Suidoosterfees se aanbod is ʼn vertoning deur die Universiteit Stellenbosch Koor wat vanjaar die eerste keer by dié fees optree. ʼn Herdenkingskonsert word ter viering van wyle prof. Jakes Gerwel, ʼn stigterslid van die Suidoosterfees, aangebied.

Teater

Met twintig produksies op die program kan teaterliefhebbers onder meer nader skuif vir Marthinus Basson se aanbieding van Reza de Wet se Mirakel, ʼn eenvrouvertoning van Magda Louw, die gewilde kykNET-komedie, en Bul, ʼn donkerkomedie met Wian Taljaard, René Cloete, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa.

“Mixtape van die liefde” bestaan uit Laurinda Hofmeyr, Anna Davel, Mathys Roets, Leon Gropp, Jana Cilliers en Stephanie Baartman. Christo Davids kon nie die geleentheid bywoon nie. (Foto: Pieter Lombaard)

Vyf splinternuwe dramaproduksies deur jong skrywers debuteer ook by die fees. Dit is deel van die NATi Jong Sterre-opleidingsinisiatief wat deur die Suidoosterfees, NATi en die Jakes Gerwel Stigting aanbied word. Die ATKV Jeugteater-program is volgepak met opvoerings deur studente van verskeie instansies, en vier ATKV se Tienertoneel-wenstukke word ook by die fees opgevoer.

Die aanbod vir musiekteater sluit in Femme is Fatale, ʼn kabaret deur Elzabé Zietsman, Woordmusiek met Coenie de Villiers, Mauritz Lotz, Jana Cilliers, Antoinette Kellermann en Vinette Ebrahim, en Mixtape van die liefde met Jana Cilliers, Mathys Roets, Christo Davids, Anna Davel, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp. David Kramer se musiekblyspel, Ver in die wêreld, Kittie, met Rushney Ferguson, Jenny Stead, Dean Balie, Andre Terblanche en Dylan Roman in die rolverdeling, gaan feesgangers vermaak.

Woordkuns

Die gewilde Stemme-produksies word vanjaar op ʼn nuwe wyse aangebied. Kort, kragtige dialoë met twintig akteurs, tien regisseurs en tien skrywers, spesiaal vir die 20ste Suidoosterfees, gaan gratis by die fees opgevoer word. Dié innoverende projek word saam met LitNet, NATi en die ATKV aangebied, en van die skrywers is Pieter-Dirk Uys, Valda Jansen, Deon Opperman, Rachelle Greeff, Nathan Trantraal, Marita van der Vyver en Bettina Wyngaard.

Dans

Verskeie dansproduksies deur verskillende geselskappe is op die spyskaart. Musiek à la carte met studente van Dance for All, Dance Synergy Volume II, spesiaal vir internasionale dansdag, en Stof deur die Garage Dance Ensemble. Dansklasse, gesprekke en opskietdansvertonings saam met Figure of 8 Dance Collective word aangebied, asook Sunset Salsa Social @ Suidoosterfees Piazza.

Gesprekke

Die Jakes Gerwel-gespreksreeks word vanjaar weer gratis aangebied en feesgangers kan aansluit by gesprekke met René Arendse, Lyntjie Jaars, Julian Jansen en Nadine Petrick. Jacques Pauw gesels oor sy boek, Our Poisoned Land, en Richard Calland, Mabel Sithole en Zelda la Grange bespreek Suid-Afrika se oudpresidente in The Presidents – Leadership in the Age of Crisis.

Haidee Muller is in gesprek met Ivor Swartz oor sy boek, Kies die lewe, Suzette Myburgh gesels met Crystal-Donna Roberts en Deidré Jantjies oor hul kinderboeke, en Marianne Thamm en Paula Fourie praat oor Paula se Taliep Pietersen-biografie.

Vir die kleinspan

Die kleinspan kan uitsien na Aspoestertjie … as die skoen pas, ʼn aweregse kindermusiekblyspel van die Stage Performing Arts Studio. Rafiek Mammon se gewilde kinderboek, ʼn Goue ster vir Faizel, is omskep in kinderteater, en Margit Meyer-Rödenbeck tree op in Verna Vels se Liewe Heksie vang vis.

Die volledige program is op die Suidoosterfees se webwerf beskikbaar en kaartjies is by Computicket te koop. Daar is spesiale pakkette beskikbaar vir mense wat beplan om die fees in Kaapstad by te woon, wat onder meer verblyf en kaartjies insluit.

Margit Meyer-Rödenbeck as Liewe Heksie. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.