Talle rocklegendes vir Afri-Indie-musiekpryse benoem

Ross Leartmonth van Prime Cirlce. (Foto: Facebook.)

Eg Suid-Afrikaanse legendariese rockgroepe wat verhoë warm speel, is vir vanjaar se Afri-Indie-musiektoekennings genomineer.

Prime Circle vier 22 jaar op toer en Wonderboom 25 jaar terwyl Springbok Nude Girls terug is met talle vertonings wat met enige internasionale rockgroepe kan kompeteer. Dit is noodsaaklik vir Afri-Indie dat hierdie wêreldklasgroepe erkenning moet kry,” het Rea le Roux, organiseerder van die Suid-Afrikaanse onafhanklike kunstenaarstoekennings, beter bekend as die Afri-Indie-musiektoekennings gesê.

Vanjaar is die derde toekenningsgeleentheid en vind op Dinsdagaand 4 April tydens ʼn glansgeleentheid by die Colosseum Reale-venue in Roodeplaat, noord van Pretoria, plaas.

Rea meen hierdie jaar beloof om opwindend te wees met die beste van die onafhanklike musiekbedryf benoem vir toekennings.

Carike Keuzenkamp, Anneli van Rooyen, Manuel Escorcio en Patricia Lewis is op die nominasielys vir lewenslange bydraes.

Carike-Keuzenkamp-02

Carike Keuzenkamp tydens die opname van haar een van haar albums. (Foto: Carike Keuzenkamp/Facebook)

Nádine en Jak de Priester is ook genomineer vir beste vroulike en manlike kunstenaar, terwyl Dirk van der Westhuizen en Irene-Louise van Wyk genomineer is vir die People’s Choice-toekenning.

Die beeldskone Nádine. (Foto: Facebook via @Nadine.net)

Peach van Pletzen is ook benoem vir sy werk met die klankbaan van die Netflix-produksie, Ludik, wat daarin geslaag om Netflix se top-10-trefferlys vir internasionale produsies te haal.

“Vir die eerste keer kan ons eie plaaslike kunstenaars spog met hierdie internasionale mylpaal wat bereik is, want Ludik is eg Suid-Afrikaans.

“Ek verstaan die uitdagings van die onafhanklike musiekbedryf, en dit is ʼn passie om aan die room van hierdie bedryf erkenning te gee vir die bitter harde werk wat elkeen van hulle doen,” sê Rea.

Die Afri-Indie-musiektoekennings gee ook vanjaar ʼn kontantprys van R20 000 aan die beste musiekvideo of album van ʼn opkomende, onafhanklike kunstenaar.

“Ons hoop is om die bedrag oor die komende jare te kan verhoog. Die idee is dat die wenner die prys sal belê in hul musiek. Dit sal ʼn kunstenaar in staat stel om meer musiek te skep en onafhanklik te bly.”

  • Die publiek kan die toekenningsgeleentheid bywoon en ʼn kaartjie kos R250. Bespreek aanlyn vir die geleentheid by www.afri-indie.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.