Van Der Aven slaggereed om musiekdrome uit te leef

Van Der Aven. (Foto: Verskaf)

Die manne van Van Der Aven, ʼn multi-instrumentale musiekgroep, is ernstig, passievol en gedrewe.

Strategiese sessies, afpaksessies ná vertonings, noukeurige voorbereiding en goeie kommunikasie vorm deel van dié groep se suksesresep.

Van Der Aven, wat voorheen hoofsaaklik in Engels opgetree het, maar onlangs besluit het om in Afrikaans musiek te maak, se kop staan voltydse musiekmaak toe.

Die broers, Roelof en Theunis van der Merwe, en vriend, Paul Avenant, sê die droom vir die groep is om ʼn volhoubare loopbaan uit musiek te kan bou.

Everywhere,” sê Roelof oor waarheen die musiekpad wat hulle nou aandurf gaan lei. “Ons is opgewonde en gereed daarvoor.”

Theunis beaam dit. “As dit vir ons ʼn probleem begin raak om ons dag-tot-dag-werke saam met ʼn musiekloopbaan te volhou, is dit vir ons ʼn goeie teken. Ons almal het ʼn passie en liefde vir musiek en ons almal is baie gretig om te sien wat die toekoms vir die groep inhou.”

Roelof het tot dusver hoofsaaklik die musiek en lirieke geskryf, met die jongste uitreiking, “Slaap jy al”, ook uit sy pen. Theunis en Paul help om die prentjie wat Roelof geskets het, in te kleur.

“Ons het onlangs ʼn liedjie saam met [die musiekvervaardiger] Theo Crous opgeneem, wat hopelik voor die middel van die jaar die lig gaan sien.

“Die liedjie het organies ontstaan. Ons het met ʼn sterk idee ingegaan ateljee toe, maar ons almal het saamgewerk om die liedjie te voltooi. Ons hou daarvan om ingeoefen te wees voordat ons in die ateljee of op die verhoog gaan. Dan kan ons in die oomblik net laat gaan en die musiek geniet.”

As gebore en getoë Karoolinge is dit vir dié driemanskap ʼn spesiale geleentheid om op dié fees op te tree. Roelof en Theunis is van Beaufort-Wes afkomstig, terwyl Paul op Murraysburg in die noordoostelike hoek van die Wes-Kaap grootgeword het.

“Om by die KKNK op te tree, pas ook in by presies die rigting wat ons aan die begin van die jaar tydens ʼn strategiese sessie besluit het om in te slaan. Ons wou doelbewus meer kieskeurig wees oor waar ons optree, aangesien ons ʼn doel voor oë het,” verduidelik hulle.

Die feit dat die KKNK bereid is om hulle op die groot verhoog te laat optree, is ʼn bevestiging dat hulle op die regte pad is, meen hulle.

“Ons sien daarna uit dat mense ons regstreeks op ʼn verhoog ervaar. Dit is waar al die goeie goed gebeur. Die gehoor gaan ons driestuk-harmonieë beleef. Dit is wat ons groep uniek maak.”

Die musiekvideo vir “Slaap jy al” is onlangs uitgereik. Die akteurs Lara Hattingh en Len-Barry Simons vertolk die hoofrolle.

“Ons het die video op ʼn plaas buite Moorreesburg geskiet. Die verfilming het reeds 04:00 begin en teen 10:00 was dit reeds ongelooflik warm. Ons was betrokke by elke aspek van die video en het selfs ligte help vashou,” vertel die groep.

Die Van Der Aven-manne, Theunis van der Merwe, Paul Avenant en Roelof van der Merwe. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

SW Strauss het die regie behartig terwyl Hugo Brand die video vervaardig het.

“Die liedjie handel oor ʼn onsekere punt in ʼn verhouding en die video beeld dit op ʼn abstrakte manier uit. ʼn Mens kan die spanning aanvoel. Die akteurs het hulself uiters goed van hulle taak gekwyt.”

“Van Der Aven is my en my vrou se gunsteling‑ Suid-Afrikaanse musiekgroep. Hulle het oorspronklike lirieke, wonderlike melodieë en ’n ongelooflik aanslag. Hul nuwe album is perfek. Dis die beste Afrikaanse musiek wat ek al gehoor het. Punt.”

Oor dié kompliment uit Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, se kraal, is die groep beskeie. “Hy was nie betaal om dit te sê nie,” lag hulle.

“Jy verwag altyd van jou vriende en familie om te sê jou musiek is mooi, want hulle ondersteun jou ongeag. As iemand soos Danie en ander vreemdelinge egter jou musiek geniet, is dit baie spesiaal. Dit gee ʼn mens hoendervleis.”

Van Der Aven is op 1 en 2 April in middagvertonings op die Feesmark-verhoog van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn in die Wes-Kaap te sien. Hulle gaan ook eersdaags saam met die musiekgroepe Glaskas en Van Reg & Rede op die verhoog te sien wees, in drie afsonderlike vertonings.

Kyk hier vir datums en kaartjies.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Slaap jy al”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.