Ek mis die Dinsdagaand movies by die Brooklyn Mall
Ek mis die stoeigevegsessies as ek oor jou rol
Ek mis die Sally Williams-nougat by die Groenkloof Spar
Ek mis die koffie met die skuim op en jou stywe jean
Ek mis die vat van jou hande soos in ‘n movie scene…
Daar was ʼn tyd toe dié liedjie in elke tiener en student se kamer gespeel het – ʼn liedjie oor liefde, langafstandverhoudings en Sally Williams-nougat. Kortom, ʼn wenresep.
‘Sally Williams Nougat’ is 15 jaar gelede uitgereik en het vir sanger en liedjieskrywer Jak de Priester ʼn weg in die vermaakbedryf gebaan.
ʼn Oogwink en dit is 15 jaar later, sê Jak. Maar sukses in die vermaakbedryf het nie vanself gekom nie en dit verg steeds harde werk om relevant te bly.
“Dit is nogal ʼn uitdaging om daardie momentum te behou. Hoe lank kan ʼn mens sing sodat mense nog na jou wil luister,” wonder hy.
Jak sê hy is nog gelukkig in dié opsig en dat hy steeds, ná al die jare, steeds die voorreg het om nog liedjies te kan skryf en elke jaar ʼn aanbieding op die planke te kan bring.
“Ek is baie bly ek kan nog doen waarvoor ek ʼn passie het. Ek dink wanneer jy jou eie goed skryf, en dit gaan oor die wêreld om jou, bly jy relevant.”
Om dié spoggerige mylpaal te vier het Jak ʼn album, 15, opgeneem met ʼn hele klomp splinternuwe liedjies uit Jak se pen en saam met kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Charl du Plessis en Jannie Moolman.
Jak stel sy nuwe album bekend tydens drie optredes in die Boer Teater in die Kaap en twee in die Atterbury-teater in Pretoria. Hy is later vanjaar ook op verskeie feesprogramme. Besoek Jak se webwerf of Facebook-blad vir nog inligting.
Luister na die podsending om te hoor watter raad Jak vir voornemende sangers het. In die video hier onder vertel Jak wie sy gunsteling-sanger is en of hy steeds van Sally Williams Nougat hou.
Is die lirieke nie “Groenkloof SpaR” nie?
Dagsê Rooiman,
Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die die fout. Die artikel is reeds gewysig.
Groetnis
Janie nms Maroela Media