Video: Dis ‘note, gedigte en intelligente nonsens’ op Rocco se radioprogram

Rocco de Villiers, aanbieder van ‘Note en woorde’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Ons luister na note, lees gedigte en praat intelligente nonsens.”

Só beskryf die aktrise, skrywer en vervaardiger Lizz Meiring die gevierde pianis, Rocco de Villiers se splinternuwe radioprogram, Note en woorde, wat Sondae vanaf 2 Julie op Pretoria FM (104.2 FM) uitgesaai word.

Lizz is die eerste gas wat eerskomende Sondag saam met Rocco in die ateljee kuier.

In Note en woorde bring gaste Afrikaanse teks wat hulle na aan die hart lê saam na die radio-ateljee om voor te lees en te bespreek. Natuurlik word daar nie net gepraat nie, maar tussendeur ook op ʼn klawerbord behoorlik getokkel.

Ook Afrikaans se geskiedenis van kombuis- na volwaardige taal, en die suiwer praat daarvan, word ʼn gesprekpunt in dié eiesoortige radioprogram.

Luisteraars kan uitsien na gaste soos die komediant Radio Raps (Rikus de Beer), Alexa Strachan (Aardklop se feesbestuurder), die sanger Steve Hofmeyr en nog vele meer.

“Die idee vir Note en woorde is verlede jaar ná die publisering van my debuutdigbundel, Die eiesoortiges, gebore. Ek speel instrumentale musiek, my enigste woorde in my vertonings is die grappies wat ek vertel, en ek wou iets aanpak waarin ek myself in die Afrikaanse prosa en digkunswêreld kon inleef,” het Rocco vroeër aan Maroela Media vertel.

Note en woorde se episodes word vooraf, maar in die oomblik 100% regstreeks in die ateljee opgeneem en nie geredigeer nie.

“Ek is baie dankbaar dat Pretoria FM my vertrou het en totale vrye teuels gegee het. Die belangrikste was dat daar jonk en oud by hierdie gesprek rondom Afrikaans betrek word en dat dit opreg moet wees.”

  • Note en woorde word vanaf 2 Julie om 17:00 op Pretoria FM (104.2 FM) uitgesaai.
  • Kyk na Maroela Media se onderhoud met Rocco de Villiers en sy Note en woorde-vervaardigingpsan hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.