Video: Hoërskoolleerders raak kreatief met Covid-19-liedjie

‘n Skermgreep uit die video.

Leerders van die Hoërskool Hartbeespoort het sedert Donderdagoggend sosialemediagebruikers aan’t glimlag en saamsing met ʼn prettige musiekvideo ter bewusmaking van die korona (Covid-19)-krisis.

Die skool se musiekgroep, Try Hard, wat uit vier gr. 11-leerders bestaan, en leerders wat deel is van die skool se klein rolprentskool, het kragte saamgesnoer om dié video te vervaardig.

Paul Kruger, wat bekend is as vervaardiger van Afrikaanse flieks soos Liefling en French Toast en ook bouer van die Pretville-dorpie en eienaar van die French Toast Koffiekafee in Hartbeespoort, vertel aan Maroela Media hy is as hoof van kultuur in sy beheerliggaamsportefeulje by dié hoërskool betrokke.

Albei sy kinders is ook leerders aan die Hoërskool Hartbeespoort. Hy ploeg sy passie vir die rolprentbedryf terug in die gemeenskap deur sy rolprentvaardighede met die leerders van die skool te deel.

Hy vertel die kinders was vuur en vlam om ʼn liedjie op te neem en ʼn video te maak nadat hulle die video’s van die Italianers gesien het wat by hulle woonstelvensters uit gesing het terwyl hulle onder kwarantyn is. Dié land gaan veral swaar onder die Covid-19-krisis gebuk.

“Machiel Roets skryf al ons musiek. Ek het hom gebel en gesê ons kort ʼn oorwurm-liedjie wat in jou kop gaan vassteek met lirieke wat ʼn impak maak. Omtrent ʼn uur later het ek die liedjie by hom gekry. Die liedjie en video is binne 24 uur geskryf, stemopnames gedoen, geskiet, gemeng en geredigeer,” vertel Kruger.

‘n Skermgreep uit die video.

Volgens Kruger is dit vir die skool baie belangrik om bewusmaking te doen oor Covid-19. “Alles omtrent hierdie virus is so negatief dat ons net iets wou doen wat ʼn glimlag op mense se gesigte sal sit. Miskien dring ons tog deur tot drie of vier mense wat hulle hande meer gereeld sal begin was.”

Hy vertel die kinders het die projek baie geniet. Die musiekgroep wat in die video te sien is, is Divan Swanepoel (voorsanger), Marco Willemse (tromme), Tiaan Pretorius (baskitaar) en Stefan van der Colff (kitaar).

“Ons het gedink die land het so iets nodig – vir die kinders deur die kinders. En die terugvoer wat ons kry, is baie positief. Die video is op Facebook reeds sowat 12 000 keer gekyk en 500 keer gedeel. Hopelik versprei die video vinniger as die virus!” skerts Kruger.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

#Covid-19

South Africa be strong in times like these! Hoërskool Hartbeespoort doen sy ding teen die Coronavirus….#BEWISEANDSANITIZE

Posted by Hoërskool Hartbeespoort on Wednesday, March 18, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

madels ·

Ek het die liedjie en die kinders so geniet. Dankie julle! So bietjie lig in die tonnel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.