Video: Jan Jan Jan steek fakkels van hoop aan

Die Janne in die musiekvideo. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand skud vere reg vir ʼn reuseprojek saam met die Afrikaanse groep Jan Jan Jan en die Boerboel-klerereeks.

“Die projek se boodskap is eenvoudig: Jou huis is hier; jy hoort hier,” sê René Roux, Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie. “Dit is ʼn liedjie en dit vertel ʼn storie van ʼn volk wat al eeue lank aan die suidpunt van Afrika saai en bou met moed en vertroue. Hoewel hulle al deur vuur en oorloë geteister is, word hulle nie gebreek nie, want met ʼn stam so taai soos dié van die waboom en hulle oë na bo vol geloof sal hulle bly voortbou in hierdie land wat hulle liefhet.”

Sy sê die liedjie se naam is “Die RSA is in my DNA” en Helpende Hand vat hande om hierdie splinternuwe patriotiese lied van Jan Jan Jan bekend te stel tesame met ʼn dokumentêr om die rede agter die liedjie aan die publiek te verduidelik.

“Die projek is ʼn gesamentlike poging deur die Boerboel-klerehandelsmerk en die Janne, want hulle wil hulle vir ʼn goeie doel beywer en vir hul teikenmark iets bied wat meer patrioties en ernstig is om sodoende ʼn gevoel van behoort, vryheid, selfdoen en gemeenskapskrag te bemagtig en te beklemtoon.

“By Helpende Hand glo ons ook in die konsep van selfdoen, en met die hutsmerk #OnsSalSelf stel ons dus die voorbeeld regdeur die Solidariteit Beweging. Die pad na selfbestuur word opgesom in al die instellings van die Solidariteit Beweging se visie en missie. Die waardes van God eerste, vír die gemeenskap, vanuit die gemeenskap, en onafhanklikheid van die staat, is deel van ons alledaagse strewe, ons roeping en ons voortbestaan. Dus is dit vir ons vanselfsprekend om netwerke met handelsmerke, vennote en vriende van die Beweging te vorm om hierdie #OnsSalSelf-doel en roeping uit te leef en dit in gemeenskappe te vestig. Deur hande te vat met die handelsmerk Boerboel en die musikante Jan Jan Jan wil ons saam ʼn verskil maak en welstand verseker.”

Sy sê Helpende Hand handhaaf maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling, en Helpende Hand se doel is om welstand te verseker binne die kwesbare groepe, naamlik kinders, bejaardes, persone met gestremdhede en gesinne as geheel. “Dit is vir Helpende Hand belangrik om na die holistiese welstand van die mens te kyk en dus word daar gepoog om na die fisieke, geestelike, kulturele en sosio-emosionele welstand van die mens om te sien en dit te bevorder.

“Ons het reeds reg oor Suid-Afrika gesê: Die land behoort aan jou. Ons het reeds bevestig: Ons is monumentaal. Nou gaan ons uit na elke tak en streek, instansie, verteenwoordiger, vrywilliger, kantoor en tehuis met een boodskap: Jy hoort hier.Jou huis is hier. Dit is ʼn fakkel van hoop wat ons deur Suid-Afrika gaan dra,” sê Roux.

Die Janne en die Boerboel-klerereeks werk nou saam om Helpende Hand te ondersteun. (Foto: Verskaf)

Sarichia Coetzer, mede-eienaar van die Boerboel-klerereeks, sê: “‘Die RSA is in my DNA’ is ʼn patriotiese kreet. Boerboel het geantwoord op ʼn gemeenskapsgevoel wat spontaan ontwikkel het. Die lied dra ʼn boodskap van hoop en dit is ook wat ons by Boerboel saam met die Janne graag wil saai in Suid-Afrika.”

Volgens Stephan Hugo, bemarkingsbestuurder en mede-eienaar van die Boerboel-klerereeks, lê die Afrikaner, sy kultuur en taal die Boerboel-klerereeks baie na aan die hart.

“Met ‘Die RSA in my DNA’-veldtog en -lied wil ons met die hart van die volk praat in die hoop dat ons by mense weer hoop kan skep vir die toekoms. Daarmee saam wil ons bowenal ook ʼn wesenlike verskil maak in ons Afrikaner-gemeenskappe waar daar nood is. Met hierdie sentiment in gedagte vat ons hande met Solidariteit Helpende Hand – mense wat daagliks lewens aanraak en verander deur praktiese, tasbare en goed deurdagte projekte. Dis ons voorreg en trots om die RSA-projek aan te pak met so ʼn gedugte en toegewyde span,” sê Hugo, wat benewens sy betrokkenheid by die Boerboel-handelsmerk ook die lied geskryf het.

Bestel “Die RSA is in my DNA”-hemp en help om ‘n verskil te maak. (Foto: Verskaf)

Die Janne is almal trots daarop om deel van die inisiatief te wees.

“Ek is dankbaar om deel te kan wees van hierdie inisiatief van Helpende Hand en Boerboel,” sê een van die Janne, ook beter bekend aan die publiek as Klein Jan. “Dit is nodig dat ons na die jeug van ons land se welstand omsien. Jy kan ook ʼn verskil maak.”

Mooi Jan sê die RSA is in sy DNA. “Ek sê dit met trots en ek leef dit met trots. Met hierdie lied poog ons om ʼn verskil te maak in ons land se kinders se welstand. Jy kan agter ons staan en ons hande sterker maak deur ʼn T-hemp te koop by www.boerboel.co.za. ʼn Gedeelte van die geld gaan aan Helpende Hand om seker te maak dat daar na die holistiese welstand van ons land se kinders omgesien word.”

“Ek gaan vandag ʼn verskil maak. Ek gaan vandag ʼn skenking aan Helpende Hand maak by www.jouhuisishier.co.za. Deur hierdie skenking te maak, weet ek dat ek ons jeug bemagtig. Die RSA is in my DNA,” sê Lang Jan.

Helpende Hand, Boerboel-klerereeks en die Janne nooi die publiek uit om ʼn verskil te maak deur die T-hemp met die slagspreuk “Die RSA is in my DNA” aan te koop by die volgende skakel of deur ʼn skenking te maak by www.jouhuisishier.co.za.

Die enkelsnit is op Donderdagaand om 20:00 uitgereik. Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

ek weet dit gaan vir ‘n goeie doel, maar r290 is bietjie baie vir ‘n t-hemp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.