Video: Margit en Jurg oor ‘ouerwees’ vir teaterrestaurant, aktrise-tiener

Margit Meyer-Rödenbeck en haar man, Jurgen Human. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hoewel die aktrise, skrywer en regisseur Margit Meyer-Rödenbeck en haar man, Jurgen (oftewel Jurg onder vriende) Human, saam die ouers van een tienerdogter is, skerts hulle graag dat daar eintlik twee “kinders” is wat die afgelope paar jaar hul tyd, geld en energie opgeslurp het.

Luca (14) is Margit en Jurg se tienerdogter wat vanjaar haar toetrede tot die kollig gemaak het in die Showmax-reeks Trompoppie, maar dan is daar ook hul immergewilde teaterrestaurant Die Boer – wat die afgelope 19 jaar ʼn teatertuiste vir van die land se voorste kunstenaars geword het.

Hoewel die Covid-19-pandemie amper Die Boer, wat sy deure in April 2005 met Valiant Swart as kunstenaar geopen het, se gordyne finaal laat sak het, het “passie en genade” volgens Margit gesorg dat die teater en sy span steeds staande is.

“Dit was dood in die huis toe ons aanvanklik ons deure vir ʼn tydperk moes sluit, maar ons moes ʼn harde besluit neem,” vertel sy aan Maroela Media.

“Of ons maak toe met die doel om later weer oop te maak, of ons waag alles en verloor dalk die besigheid permanent. Dit was woes, maar mens leer die les, sluk jou trots en aanvaar hulp waar daar aangebied word.”

Nes ander teaters, kunstenaars en restaurante het aanlyn konserte en wegneemetes as ʼn tydelike verligting vir die egpaar gedurende die pandemie geklink, maar die deure moes op die ou end vroeg in 2021 vir byna agt maande sluit.

“Dit was die moeilikste dae in albei van ons se lewe. Ons was vasbeslote, maar ook onseker of ons deure sou opmaak,” vertel Jurg.

“Jy kan dit ook domastrant noem,” voeg Margit laggend by.

Hoewel die impak van die ekonomie en beurtkrag druk, het dié teater in Durbanville oorleef en word daar weekliks steeds byna ses verskillende vertonings aangebied en smaaklike disse opgetower– kragopwekker en al.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dinge het nog nie heeltemal herstel nie, mense het minder geld, maar ons kan nie kla nie. As die laaste borde kos afgedek word en die teater se ligte verdof, is dit magic – dan moet mense juis van al daardie nonsens ontsnap,” sê Jurg.

Dit was destyds sý groot droom om ʼn teaterrestaurant te besit – ʼn droom wat hy sommer op sy eerste afspraak met Margit in 2004 gedeel het.

“In my vorige lewe het ek in die televisiewêreld en baie in die buiteland gewerk en sulke plekke bestudeer, maar dit sou nie van grond af gekom het voordat Margit nie in my lewe was nie,” erken Jurg.

“Toe kyk sy vir my en sê: ‘Kom ons doen dit!’ Sy’t gesê drome moenie net drome bly nie, maar mos realiteite word.”

Binne ʼn jaar van hul ontmoeting het die paartjie getrou, nessie geskrop en die teater geopen.

In die begin was Margit saam met hul sjef self doenig in die kombuis en Jurg moes soms self “spoeg en plak” aan die interieur.

“Dit was gek, so almal moes inspring en kom help. Selfs Pedro Kruger het help verf. Nou is dit al 19 jaar later – danksy lojale kliënte, kunstenaars en personeel. Hierdie is ʼn masjien, elke rat ken sy plek,” sê Margit.

“Ons doen dit as trots en passie, nie vir geld nie. Die gemeenskap hier ondersteun ons omdat ons deel van hulle is.”

Daardie gemeenskapsgees is te sien in die “goetertjies”, soos Margit dit beskryf, wat teen die teater se mure én dak pronk; van foto’s tot antieke meubelstukke en selfs ʼn oudmodiese petrolpomp.

“Dit lyk soos ʼn negosiewinkel hierbinne, mense dra allerhande dingetjies aan en sê ons moet plek daarvoor maak. Hulle vat eienaarskap, Die Boer is immers almal sʼn.”

Hul mees getroue kliënt het boonop die teater al meer as 320 keer besoek en bekendes soos Laurika Rauch, Dawid Kramer en selfs Candye Kane – ʼn gerekende Amerikaanse blues-sanger, het hulself al tuis gemaak op Die Boer se verhoog.

“Ons enigste vereiste is dat die vermaak van gehalte moet wees, of jy nou drama, komedie of musiek doen. Oor styl en genre is ons nie kieskeurig nie,” voeg Jurg by.

Die Boer se diversiteit is juis volgens Margit een van sy sterkste eienskappe. “Een aand kan die trane loop van die mooi en die ander aand van die lag. Dís wat so lekker is.”

Versoeke vir franchisegeleenthede in ander dorpe het deur die jare opgeduik, maar die paartjie sê hul verkies om hul vinger op die pols te hou – daarom bly Durbanville tans Die Boer se een en enigste tuiste.

Boonop moet Jurg en Margit hul tyd en aandag tussen hul “restaurantkind” en tienerkind – wat tans op hoërskool in Durbanville is – verdeel.

“Ek sweer, haar skedule is besiger as ons sʼn,” terg Margit.

Musiek is die talentvolle Luca se eerste liefde en sy het sedert kleintyd tussen Die Boer, die verhoog en die lang pad grootgeword danksy haar kreatiewe ouers.

Tans is sy te sien as Elke, die kleinsus van hoofkarakter Zanne Peterson in Trompoppie en ma en pa ondersteun waar hul kan en “slaan briek aan waar hul moet”.

“Sy het al vantevore rolle gekry waarvoor ek nie ja gesê het nie. Hierdie was wel nie ʼn maklike rol nie en sy speel teenoor groot name. Dis ʼn sterk teks en ek het gevoel sy sou dinge kon leer wat ek haar nie self sou kon leer nie,” meen Margit.

“Dit was eintlik maar net ʼn kwessie van tyd voordat sy in een van ons se voetspore sou volg. Ek knyp my oë toe en hou terselfdertyd my duime vir haar vas,” voeg Jurg met ʼn laggie by.

Die talentvolle tiener se akademie word ook nie afgeskeep nie.

“Oe jong, sy’s ernstig oor skoolwerk. Dis ons twee wat soms sê, chill en and live a little,” sê Margit terwyl sy na haar en Jurg wys.

Of haar droomloopbaan in die vermaaklikheidswêreld lê, weet Luca nou nog nie, maar bekendheid is volgens haar ma nie een van haar dryfkragte nie.

“Dit gaan vir haar daaroor om iets te skep, nie om beroemd te word nie – sy hou nie van die opinies wat daarmee gepaard gaan nie en sien deur ons dat die bedryf nie maklik of standvastig is nie. Die voordeel van tussen kunstenaars grootword, is dat haar kop en denke wyd en oop is.”

Tussendeur Die Boer en ma-wees toer Margit vanjaar weer as aktrise en vervaardiger van verhoogproduksies soos Laerskool Noord en Hoerkind, asook Ken jy vir Dewie en Ouma is op pad – wat eersdaags op die planke by die KKNK te sien sal wees.

Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm en Ilne Fourie. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Ons spot gereeld en sê ons is ʼn sirkushuis, want daar is roetine, maar geen twee dae lyk dieselfde nie. Nes enige familiebesigheid eis Die Boer en my werk as aktrise baie tyd, maar gehaltetyd as gesin is vir ons baie belangrik,” meen Margit.

“Soos die gesegde lui, the show must go on!”

  • Koop kaartjies vir die laaste Gautengse vertonings van Laerskool Noord op 7 en 8 Maart by die Centurion Teater hier.
  • Hoerkind is op 9 en 10 Maart by die Atterburyteater in Pretoria te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.