Video: Ricus Nel en Snotkop sing oor ʼn ‘boerepompie’

Snotkope en Ricus sing “Boerepompie” (Foto: Verskaf)

Ricus Nel en Snotkop het ʼn ander naam vir die gewilde konsertina gekry – hulle noem dit sommer ʼn “boerepompie”!

Dié musiekduo het vandag hul nuwe musiekvideo, “Boerepompie”, eerste op Maroela Media bekend gestel waar hulle die konsertina gebruik om die rustige plaaslewe met die gedruis van die stad byeen te bring.

Nel, wat al 25 jaar lank die konsertina bespeel, het aan Maroela Media vertel die woord boerepompie is reeds lankal ʼn term wat in boeremusiekkringe gebruik word en hy loop al lank met die idee rond om ʼn liedjie daarvan te maak.

“ʼn Boerepomp is ’n ou tradisionele konsertina wat ons voorvaders bespeel het en ons doen dit nou nog,” het Nel gesê.

Volgens Snotkop kan hy sélf nog nie die konsertina baasraak nie, maar Nel is in die proses om hom te leer.

“Hy [Nel] kry die meeste aandag by shows as ons die liedjie sing, so ek dink dis definitief die krag van die ‘donkielong’ wat ek nog moet bemeester.”

Afgesien van “boerepompie”, verwys dié duo ook na die konsertina as ʼn donkielong, pompielompie en krismiswurm.

“Soos Ricus sê, dit is al ’n ou term, maar daai man wat dit uitgedink het, kort ’n prys! Dit is só ’n wonderlike beskrywende woord vir ’n instrument wat nou al so ’n kenmerkende ikoon van Afrikaanse musiek geword het,” het Snotkop gesê.

Ricus Nel se album Pure Plaas (Foto: Verskaf)

Met “Boerepompie” span ’n plaasjapie (Ricus) en stadsjapie (Snotkop) kragte saam om die beste van die plaas en die beste van die stad in een snit in te bou. Gevolglik kry boeremusiek so ’n ekstra bietjie skop met ’n lekker ritme en ’n goeie dosis kletsrym vir iets tong-in-die-kies.

Volgens Snotkop wou hulle in die musiekvideo uitbeeld dat dit nie saak maak of jy van die plaas of van die stad af kom nie, en dat almal eintlik maar dieselfde is.

“Al wat jy kort om ’n lekker tyd te hê is ’n krismiswurm, ’n brannas en ’n lekker beat. Almal moet ’n boerepompie hê!” het Snotkop gesê.

“Ons wou ook wys dat die konsertina die coolste ding is wat met almal kan praat, om die bosveldvuur óf in die stad. Ek wou wys dat al is ons musiek baie verskillend, ons eintlik maar dieselfde soort mense is. Afrikaans bly een taal!” het Nel bygevoeg.

Snotkop en Nel meen albei dat hierdie liedjie geskik is vir enige geleentheid behalwe één.

“Luister dit vir ’n break-up, ’n troue, sokkie-aande in die stoor, in jou woonstel in Centurion, by feeste, op jou 21ste verjaarsdag, eenuur die oggend in die stad ná ’n jol by die KFC, letterlik enige tyd behalwe op ’n begrafnis,” het Snotkop gesê.

Die musiekvideo van “Boerepompie” is in en om Pretoria geskiet en die sangers het hope pret gehad en baie gelag tydens verfilming. “Die meisies was ook baie vriendelik,” het Snotkop bygevoeg.

“Boerepompie” sal beskikbaar wees op Ricus Nel se splinternuwe album, Pure Plaas, wat op 12 Julie die rakke tref. Dié liedjie is wel reeds beskikbaar op alle digitale platforms en YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Amanda Mostert ·

Hoendervleis oulik!!!! Puik gedoen!! Dankie Ricus en Snotkop!

Landi ·

STUNNING OUENS. GREAT, GREAT, GREAT. EKT NIE WOORDE OM TE Sê NI, STUNNING!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

jannie ·

Lekke manne lekke man…..raak sommer dors as ek sukke songs hoor….

Bridget ·

Well done julle 2 julle kan maar nog ander liedjies ook saam sing. Hoop net hy word vir ‘n Ghoema toekenning genoem (hulle aanvaar mos nie musiek soos ons land julle sing boere pompie) maar moet wag en sien

HOEKOM NIE ·

Ghoemptas is ou nuus – seker daar is ander instansies wat ook n jaarlikse toekeninnings geleentheid op die been kan bring????

charmaine ·

Waar SNOTKOP is kan jy maar weet dit gaan n gat-skop-liedjie wees baie oulik.

Liza ·

Blikemmer dis ‘n flippen cool song, ek is mal daaroor……Ricus en Snotkop julle musiek rock…….

Marinda ·

Ek lief dit. Baie dankie. Hoop daar gaan nog baie meer van die wees.

Ann ·

Dis baie oulik!! Waar kry jy nog sulke lekker Afrikaanse woorde? Dis lekker, man!! Hou so aan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.