Video: US-koor bly bekoor; konserttoer kom

Die Universiteit Stellenbosch se koor is die oudste en mees gevierde koor in Suid-Afrika. (Foto: Nanette Evenhuis)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se koor, wat tans die beste koor ter wêreld is, maak hom reg vir die eerste konserttoer in meer as twee jaar.

Van 6 tot 10 September is dié koor by verskeie venues in Gauteng en Mpumalanga te sien.

Die koor het pas van Nigerië teruggekeer waar hulle by die begrafnis van prinses Margaret Obaigbena gesing het. André van der Merwe, die dirigent, vertel dat dit die eerste keer in sy 20 jaar saam met die koor was dat die hele groep na ʼn ander land genooi en alle uitgawes gedek word.

Op pad terug na Suid-Afrika het die koor op ʼn vlug van SAL nog harte verower toe hulle op versoek van ʼn lugwaardin Bright Blue se “Weeping” gesing het. Video’s van dié oomblik wat later op sosiale media gedeel is, het ook die res van die land ontroer.

“Wat vir my so treffend is van die video en die oorweldigende reaksie daarop, is dat mense aan hoop en positiewe nuus vasklou. Dit is vir my so mooi om te sien dat ʼn spontane oomblik deur hierdie diverse groep studente soveel hoop geskep het,” sê Van der Merwe.

Die koortoer word afgeskop met ʼn optrede in die Sudwala-grotte, sowat 35 km buite Mbombela (Nelspruit), waarna optredes in Sasolburg, Johannesburg en Soweto volg.

“Ek is besonders opgewonde oor ons eerste optrede in die grotte, want dit is net ʼn ongelooflike ruimte. Jy stap letterlik met ʼn paar trappe af tot in die grot en dan ontpop hierdie mooi verhoog-area met wonderlike atmosferiese beligting,” vertel Van der Merwe, wat sedert 2003 die dirigent van die koor is, aan Maroela Media.

Van der Merwe sê hy is veral gretig om gehore in die Sudwala-grotte mee te voer met die koor se weergawe van “Die spokewals”, Hendrik Hofmeyr se toonsetting van twee Boerneef-gedigte, en ʼn verwerking van “The Destroyer”, deur die Ierse komponis Seán Doherty.

“Die spokewals” gaan oor plaaswerkers wat in die donkernag spookstories vertel, terwyl “The Destroyer” ʼn sterk boodskap oor geweld en menslike vernietiging oordra.

Gehore kan verder ook uitsien na verwerkings van die Xhosa Paasgesang “Indodana”, Suid-Afrikaanse liedjies soos “Pata Pata” en “Weeping”, popliedjies van Lady Gaga (“Always Remember Us”) en U2 (“I still haven’t found what I’m looking for”), asook geestelike liedere soos “He’s got the whole world in His hands”, “Poor Wayfaring Stranger” en “Elijah!”.

Die Universiteitskoor Stellenbosch wen die prys vir “Klassieke musiek: Vokaal” tydens die US Woordfees Woordtrofee-wenners (Foto: Mark Cloete)

Nog ʼn hoogtepunt van die koor se toer wat Van der Merwe uitsonder, is die optrede in Soweto. Hy meen dit is ʼn gulde geleentheid om die koor aan ʼn nuwe gehoor bekend te stel. “Ek hoop dat ons mense se sienswyse oor wie en wat die US-koor is, positief kan verander.”

Die US-koor, wat ook die oudste en mees gevierde koor in Suid-Afrika is, is sedert 2012 no. 1 op die Interkultur-ranglys van die top-1 000 amateurkore ter wêreld. In 2014 toe die koor by die Wêreldkoorspele in Riga, Letland, was, asook in 2016 toe die kompetisie in Sotsji, Rusland, aangebied is, het die koor al drie kompetisiekategorieë waaraan hulle deelneem het, gewen.

Van die mees onlangse pryse wat die koor plaaslik gewen het, is onder meer ʼn kykNET Fiësta-toekenning vir beste prestasie in klassieke musiek wat hulle in 2016 gewen het, en in 2016 en 2019 is die US Woordfees se Woordtrofee in die kategorie vir klassieke musiek aan hulle toegeken.

Bo en behalwe die rits pryse wat die koor onder leiding van Van der Merwe gewen het, is die koor se video’s op YouTube ook uiters gewild.

Hulle weergawes van Christopher Tin se “Baba Yetu” en Pentatonix se verwerking van “Say Something” het bykans agt miljoen kykbeurte, terwyl hulle uitvoering van John Legend se “All of Me” al meer as drie miljoen keer gekyk is.

Wanneer ʼn mens vir Van der Merwe vra oor die sukses en waaraan hy die gewildheid van die koor sal toeskryf, meen hy dit is te danke aan die diversiteit van die koor en hulle sielvolle vertolking van musiek.

“Ek dink die algemene publiek se indruk van koorsang is vier rye lede wat liedere sing wat nie sielvol is nie. Dit is die indruk wat mense nogal het.

André van der Merwe is sedert 2003 die dirigent van die US-koor. (Foto: Nanette Evenhuis)

“As gevolg van die diversiteit binne die US-koor is daar ʼn unieke energie en ek daag die koorlede uit om die musiek aan gehore te verkoop. Selfs al sing ons ʼn baie moeilike werk is dit belangrik dat die emosie jou gehoor nog steeds oorweldig,” sê hy.

Van der Merwe sê dit voel asof hy net gister as dirigent by die koor aangesluit het. Wanneer hy terugkyk op die afgelope 20 jaar is dit nie net die eerbewyse wat hy as mylpale beskou nie, maar ook nietasbare oomblikke, soos dat hulle die pandemie enduit kon deurmaak.

“Wat vir my op die oomblik ʼn wonderlike mylpaal is, en wat dalk nie vir Jan Publiek soos een sal klink nie, is dat ons die pandemie oorleef het. Dit het amper my moed gebreek om te sien hoe jong mense half moed opgee en immuun geraak het teen teleurstellings.”

Oor toekomsdrome en mylpale wat hy nog saam met die koor sal wil bereik, kom Van der Merwe se antwoord onopgesmuk en uit die hart.

“ʼn Mylpaal vorentoe sal wees om net altyd mooi musiek te maak. Dit is moeilik om te dink wanneer jy jou beste voetjie voorsit en al baie deur spanwerk bereik het, hoe jy vorentoe gaan beweeg. Ek sal altyd net fokus op mooi musiek en hoe ek dit aan die gehoor met integriteit kan oordra.”

Besoek die Universiteit Stellenbosch se webwerf vir meer inligting oor die US-koor se toer na Gauteng en Mpumalanga.

Luister hier na die US-koor se weergawe van Dan Heymann se liedjie “Weeping”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andries ·

Puik!! Koorsang maak van jou net ‘n beter weergawe van jouself. Vir die wat die geleentheid kry om deel van ‘n koor te kan wees, probeer dit gerus.

Barney ·

Hulle sing pragtig. Maak my net naar om die boelie wat my kind se lewe hel gemaak het op skool daar te sien asof botter nie haar mond kan smelt nie. Gaan aan met haar lewe terwyl my kind nou nog sukkel met sielkundige letsels wat moet genees agv haar dade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.