Virtuele koor soek na jou stem

(Foto: David Beale/Unsplash.)

Hoop Ongegrendeld, ʼn aanlyn Afrikaanse koorportaal, het jou stem nodig om deel te word van ʼn virtuele koorproduksie, wat ʼn boodskap van hoop wil uitdra.

Volgens Henning Dafel, koördineerder van die koorproduksie, het die projek in die hartjie van die grendelstaat ontstaan toe ʼn handjie vol entoesiastiese gelowiges tydens ʼn Zoom-vergadering besluit het dit is nou nodiger as ooit te vore om die boodskap van hoop in ʼn onderstebo Suid-Afrika uit te dra.

“Voor die Covid-19-pandemie ons getref het, het talle mense uitgereik na boere in die droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika. In die tussentyd is van hierdie streke met goeie reën geseën, maar daar is nog talle plekke wat nie ʼn druppel water gekry het nie.

“Boonop het die droogte talle boere se boerdery tot op die grond verwoes. Dit reën ongelukkig nie skape, trekkers, saad of ander toerusting nie en van hierdie boere het nie ʼn manier om weer van vooraf te begin nie.”

Talle van die dorpe, wat direk van boerdery afhanklik is, voel nou as’t ware die nood dubbeld, met die inperkingsmaatreëls wat hul ondernemings ʼn bykomende ekonomiese knou toegedien het.

Met die Hoop Ongegrendeld-koorprojek wil Dafel-hulle mense aanlyn met musiek bymekaar bring en so wys daar is steeds hoop in ʼn deurmekaar tyd.

“Dit is ‘n gemeenskapsprojek hierdie. Ons het reeds ‘n paar sangers soos Franzel de Wet, Elmé Churr en die soprane Alida Stoman en Melindie Pretorius aan boord. Ons het ook reeds ‘n klompie musikante wat gaan deelneem en ‘n baie bekwame koorleier, diregent en trompetspeler Braam van Tonder. Tot dusver toe het ons werklik baie seën ontvang.

“Nadat ons die webwerf op 10 Augustus van stapel gestuur het, het ons reeds navrae van sover as Nederland, Frankryk en selfs Hongkong oor deelname aan die koor gekry en die eerste video-opnames vir die koor het ook reeds in ons e-posbus geland.”

Die produksie sal in Afrikaanse gedoen word en die virtuele koor sal stukke soos “Lofsing die Heer” en verwerkings van die Psalms, asook die immergewilde “Magaliesburgse aandlied” sing. Dafel het ook sy eie verwerking van Annelie van Rooyen se “Halleluja” vir dié koor gedoen.

Verder het die aanlyn koorprojek ook twee liedere vir kinderstemme toegewys.

“Hoop Ongegrendeld wil sing vir hoop, van hoop en so hoop aan die gemeenskap teruggee. Bid saam met ons dat hierdie boodskap duidelik gehoor sal word en dat mense se harte ontvanklik vir die koorprojek sal wees.”

(Grafika: Verskaf.)

Hoe jy kan deelneem:

Besoek Hoop Ongegrendeld se webwerf waar hulle vir jou stap vir stap sal verduidelik hoe om vir die virtuele koor in te skryf.

Daar is ʼn video wat jou sal help met opwarmingsoefening vir sang, asook hoe om jou koorstukke te oefen en jou opname te beplan, op te neem en vir die span aan te stuur.

Alle inskrywings moet die Hoop Ongegrendeld-span teen Donderdag 10 September bereik. Die video’s sal daarna verwerk word en volgens beplanning op 16 Desember uitgereik word.

“Nie almal van ons het die talent om te kan sing nie, maar daar is ook ander maniere hoe jy deel van hierdie projek kan word. Ons is nog op soek na kunstenaars wat wil betrokke raak as hoofsangers, mense met tegniese vaardighede wat kan bydra tot die projek en borge,” voeg Dafel by.

Vir meer inligting oor die virtuele koor of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.