Vrouemusikante in die kollig by dié kamermusiekfees

Die dirigent Rebecca Tong. (Foto: Verskaf)

Meer as 30 internasionaal bekroonde kunstenaars uit die VSA, Europa en Suid-Afrika kom van 30 Junie tot 9 Julie vir die jaarlikse Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) byeen.

“Die program, waarna daar met afwagting uitgesien word, bevat soos vorige jare iets vir elke musiekliefhebber,” sê Nina Schumann, artistieke direkteur van die SIKMF en samesteller van die feesprogram. Schumann tree self by die fees op in uitvoerings van Vaughan Williams se klavierkwintet en Tanejef se klavierkwintet.

Op 30 Junie begin die fees met ʼn verwerking van Bach se Goldberg-Variasies vir ‘n stryktrio, wat deur Andrey Baranov (viool), Jennifer Stumm (altviool) en David Cohen (tjello), uitgevoer word.

Vanjaar se fees vestig egter die aandag spesifiek op vrouemusikante. Van dié musikante sluit Rebecca Tong, die eerste vroulike dirigent van die fees se simfonieorkes, en die komponiste Mikhaila Alyssa Smith en Allison Loggins-Hull in.

Tong is een van ʼn handvol opkomende vrouedirigente in die wêreld. Sy is in Indonesië gebore, en is tans die amptelike dirigent van die Jakarta Simfonia Orkes en die artistieke direkteur van Ensemble Kontempore.

Smith, ʼn Suid-Afrikaner wat tans in New York werksaam is, het reeds oorspronklike musiek en orkestrasies vir talle produksies by Netflix, Disney, HBO en PBS geskep.

Lighting our Stories: Tapestries of the Invisible, ʼn nuwe opdragwerk wat Smith vir die SIKMF gekomponeer het, het in samewerking met die jazzsanger en liedjieskrywer Tina Schouw ontstaan. Dit is ʼn musikale uitbeelding van Schouw se lewe en werk, veral haar ervaringe en persoonlike reis gedurende Suid-Afrika se oorgang na demokrasie.

Die komponis Nina Schumann. (Foto: Verskaf)

“Hoewel Schouw se aktivisme op die voorgrond staan, het ʼn innemende kreatiewe proses deur twee vroue van kleur en van verskillende generasies ʼn sinergie van besondere belang tot gevolg gehad,” is Schumann se kommentaar oor Lighting our Stories: Tapestries of the Invisible.

Loggins-Hull, wat ook in die VSA woonagtig is, komponeer vir ʼn verskeidenheid media, van televisie en rolprente tot radio en die konsertverhoog. Haar werk Hammers is ʼn ongewone kombinasie van fluit en word op 4 Julie saam met Demarre McGill (fluit) and Jauvon Gilliam (perkussie) aangebied.

Ander vrouekunstenaars wat by vanjaar se feespersoneel aansluit, is die violiste Suzanne Martens en Farida Bacharova. Hulle word vergesel van die bekende buitelandse violiste Gwendolyn Masin, Jennifer Stumm, Frederieke Saeijs en Karolina Errera.

Die feesprogram bestaan uit ʼn verskeidenheid aanbiedings, onder meer orkesoefeninge, kamermusiekafrigting, lesing-onderhoude, studente-kamermusiekkonserte, fakulteitskonserte en openbare meesterklasse. Alle konserte sal in die Endlersaal by die Musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch (US) plaasvind.

  • Kaartjies vir individuele vertonings en ʼn vol feespakket, is by Webtickets Besoek die SIKMF se webwerf om meer oor feespakkette te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.