Wanneer woorde en musiek handevat 

Van links na regs is Antoinette Kellerman, Vinette Ebrahim, Coenie de Villiers en Jana Cilliers. Hulle snoer hul talente saam in die produksie, “Woordmusiek”, wat vanjaar by die KKNK debuteer. (Foto: Maryna Cotton)

Deur Martjie Roos

Dit is vyftig jaar sedert die talentvolle en gesoute liedjieskrywer, Coenie de Villiers, sy ikoniese en immergroen liedjie, “Karoonag”, neergepen het. Coenie het sedertdien reuse-spore in die musiekbedryf getrap en van die mooiste Afrikaanse lirieke en musiek geskep. Maar die maestro het ook telkens verras met nuwe en innoverende produksies, waarin hy talente saam met ander kunstenaars soos André Schwartz (Grensloos) en die befaamde spanningskrywer Deon Meyer (Karoo Suite 1: Karoonagte en Karoosuite 2: Karoonagte) snoer. Vandeesweek gaan Coenie teatergehore by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) weer betower met sy nuutgeskepte vertoning, Woordmusiek, wat op 4 en 5 April by die  kunstefees debuteer.

In Woordmusiek snoer Coenie sy kreatiewe talente saam met drie van ons voorste teater-doyennes, naamlik Antoinette Kellerman, Vinette Ebrahim en Jana Cilliers. Woordmusiek is ’n totaal “nuwe perd’ wat hy opgesaal het en ’n projek wat nog nie eintlik voorheen aangepak is nie, vertel Coenie.

“Ek het van my vertellings wat ek die afgelope 48 jaar geskryf het en wat nog nooit getoonset of gepubliseer is nie, opgediep. Van die vertellings handel oor onderwerpe soos die liefde, die dood, ma-wees, die pandemie en kinders. Gelukkig het ek heelwat materiaal gehad waaruit ek kon kies. Dit was soos om ’n paar eiers uit te soek en ’n omelet te maak.”

Nadat die idee by Coenie posgevat het om nuwe lewe aan sy vertellings deur sy eie komposisies en stemme te gee, het hy eers kopgekrap oor wie hy sou vra om die vertellings voor te lees.

“Ek het dadelik gedink vroue se aanslag sal meer diepte aan die woorde gee en dat dit verkieslik senior en deurwinterde aktrises moet wees wat, net soos ek, ’n paar keer ‘om die blok’ gehardloop het,” skerts hy.

Antoinette, Vinette en Jana se name was op sy wenslysie, omdat al drie al hul merk deeglik op die verhoog gemaak het en hy soveel respek vir hul talent en professionaliteit het, vertel hy. “Maar ek was té bang om hulle direk te vra, want as hulle ‘nee’ sou sê sou ek jare se terapie moes kry, “ skerts hy weer. “Ek het toe vir Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK gevra om hulle te nader, en was verheug toe al drie ingestem het.”

coenie-de-villiers-2017

Coenie de Villiers (Foto: Verskaf)

Hierdie nuwe konsep van vertellings wat deur musiek geïllustreer word was opsigself ook ’n nuutjie vir Antoinette, Vinette en Jana.

“Tydens die eerste repetisies het hulle gesê hul soek hul eie karakter soos in enige drama of storie. Maar my antwoord was dat hulle hul eie innerlike reis met die geskrewe woord moet neem om hul eie individuele stem te vind. Dit is soos ’n ongekende, opwindende ontdekkingsreis. Elkeen van die drie aktrises het  immers so ’n sterk teenwoordigheid op die verhoog – wanneer hulle op die verhoog stap dan begin die storie reeds.

“Dit is vir my so ’n wonderlike ervaring en voorreg om saam met al drie aktrises te werk omdat ek self geen teater-opleiding het nie. Wanneer die teks en musiek handevat, voel dit vir my of ek die eerste keer daarna luister omdat elkeen se stem ’n nuwe dimensie, emosie, sowel as waarde en warmte aan my woordskeppings bring. Vinette, Jana en Antoinette vul mekaar aan en tydens ons eerste repetisies het elkeen se eerlikheid en outentiekheid wat hulle na die verhoog bring, my heeltemal verbyster. ”

Buiten Coenie se eie komposisies wat die vertellings ondersteun, verleen die kitaarmeester Mauritz Lotz met sy uitmuntende kitaarbegeleiding nog meer gravitas aan die vertellings.

“Mauritz het ook saam met my op Karoo Suite 1 en Karoo Suite 2 gewerk en ons is reeds so goed in ‘sync’ met mekaar dat die een net vir die ander op die verhoog kan kyk, dan weet ons presies waar die ander moet inval of wat om te doen.”

Die hele Woordmusiek-reis behoort ’n nuwe en verrassende ervaring vir teaterliefhebbers te wees. “Dit is amper soos een van daardie ‘pop-up’-storieboeke wat jy oopmaak,” sê Coenie. “Ek hoop die krag sowel as die simbiose van musiek en woorde sal elke gehoorlid op ’n ander manier of vlak raak. Al stap gehoorlede net uit die teater en dink: daardie een vertelling is spesifiek vir my geskryf. Hopelik sal Woordmusiek ook iets positiefs tot gehoorlede se gemoedstoestand bydra en iets waardevols vir mense bied om huis toe te neem.”

  • Woordmusiek word op Dinsdag 4 en Woensdag 5 April by die Gimsaal om 15:00 op Oudtshoorn opgevoer.
  • Coenie en Deon Meyer se laaste speelvak van Karoo Suite 2: Karoonagte word op 8 April om 18:00 en 9 April om 10:00 by die Burgersentrum op Oudtshoorn opgevoer.

Kaartjies vir Woordmusiek sowel as Karoo Suite 2: Karoonagte is by Webtickets beskikbaar. Woordmusiek word ook tydens die Suidoosterfees van 26 April tot 1 Mei by die Artscape in Kaapstad opgevoer – hou net die program vir die optredes dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.