Wen: Meyer, De Villiers skryf nóg mooier liefdesbrief aan Karoo

Die bekroonde spanningskrywer Deon Meyer en musiekgenie Coenie de Villiers se jongste boek, Ons Karoo, het pas verskyn en dít volg op die eerste Karoo-koffietafelboek wat in 2018 uitgegee is.

Deon en Coenie boei gehore al sowat vier jaar met hul Karoo Suite­-produksie, ʼn roerende liefdesbrief aan die Karoo.

Hulle het in opeenvolging van Karoo Suite ʼn luukse koffietafelboek oor die Karoo in samewerking met die Atterbury Trust uitgegee. ʼn Beperkte oplaag van slegs 1 000 is van Ons Karoo gedruk, deur Deon en Coenie geteken en genommer, en het byna dadelik uitverkoop.

Die verkope het bykans R1 miljoen wins opgelewer wat aan belowende leerders uit die Karoo geskenk is in die vorm van opleiding, skoolverryking en beurse.

Ná die sukses van Karoo Suite­ het gehore gretig uitgesien na ʼn opvolgproduksie deur Deon en Coenie en so het Karoo Suite 2: Karoonagte die lig gesien. Dit is ʼn voortsetting van hul ode aan die Karoo met Deon se roerende Karoo-verhale en Coenie se meesterlike musikale verwerkings.

Vanweë die Covid-19-pandemie kon Deon en Coenie nie Karoo Suite 2: Karoonagte met gehore deel soos wat beplan is nie. Dit het hulle egter nie gekeer om steeds met die tweede Karoo-boek voort te gaan nie.

Ons Karoo kyk selfs fyner na die Karoo en beoog om wéér ʼn verskil in die gemeenskap te maak. Deon en Coenie hoop dat dié gedenk-boek ook vir gesinne iets sal beteken.

“Dit sal wonderlik wees as gesinne stories uit die twee vertonings kan lees en wegswenk van die N1 af om oor te bly in een van die talle Karoo-dorpies,” sê Deon.

Hierdie foto van ‘n kokerbooom tydens skemer is deur Sarel van Staden en Maryna Cotton geneem . Hulle is deel van die National Geographic-span. (Grafika: Verskaf)

Coenie beaam dié sentiment: “Ons hoop lesers sal die sterrenag met behulp van ons boek verken, meer van die landstreek te wete kom, die mense ontmoet om hul gasvryheid te ervaar en – les bes – ʼn lekker Karoo-dis voor te berei.”

Annemart Swanepoel, die ontwerper van Ons Karoo, is eweneens entoesiasties oor die publikasie. Sy beskou dit as ʼn sonderlinge geleentheid om met fotografie van hoë gehalte te kon werk.

“Om dit op ʼn tydlose en elegante wyse te kombineer met vertellings uit die pen van ʼn meesterlike skrywer maak dit baie spesiaal,” sê sy.

Ons Karoo verskyn in twee uitgawes: ʼn standaard- en spesiale uitgawe, wat luuks verpak word en gratis toegang tot albei vertonings van die Karoo Suite-produksies insluit. Die boek bevat die volgende:

  • Albei uitgawes van die boek is in vier gedeel: Hemel, Aarde, Hart en Siel.
  • Deon Meyer se 14 Karoo-verhale uit albei vertonings.
  • Wêreldgehalte-fotografie deur Sarel van Staden en Maryna Cotton, die fotograwe wat onder meer die voorblad vir die internasionale uitgawe van National Geographic geskiet het.
  • ʼn Hoofstuk deur sterrekundige prof. Matie Hoffman, onder meer bekend vir die program Sterre en Planete.
  • Johann Kirsten en prof. Bruce Rubidge, gevierde paleontoloog, gee insette oor die oergeskiedenis, potensiaal en ekostelsel van die Karoo.
  • Zahn Hulme van die Atterbury Trust vertel hoe die projek lewens verander het.
  • Medewerkers se gunsteling-Karoo-resepte, van lamsvleis en volstruis, tot keurige bykosse en ʼn melktert- en boerbeskuitresep so outentiek soos die vlaktes.
  • ʼn Bonus-bydrae deur Jan Hendrik van der Westhuizen, die gesogte internasionale uithalerkok wat spog met ʼn Michelin-ster. Hy deel sy resepte vir skaapstertjies en mieliepapvingers.

Die boek word weer in samewerking met die Atterbury Trust uitgegee en die wins word aan jongmense van die Karoo geskenk om hulle by te staan om hul potensiaal te bereik. Ons Karoo is slegs aanlyn beskikbaar en kan bestel word by www.karoosuite.co.za/produkte/. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die Karoo Suite-webwerf.

“Karoonag” is deur Coenie de Villiers geskryf en die fotografie is deur Sarel van Staden en Maryna Cotton van die National Geographic-span. (Grafika: Verskaf)

En die wenner is:

Donovan Fourie en Johan Bosman het elk ʼn aanlyn vertoning van Karoo Suite gewen, terwyl Abri Jordaan en Martha de Beer elk met ʼn eksemplaar van die tweede Ons Karoo wegstap. Baie geluk aan al die wenners! Hou Maroela Media dop vir nog heerlike kompetisies en kanse om te wen.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 8 Julie om 23:45.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna die wenners telefonies deur Maroela Media gekontak sal word.
  • Indien enige van die wenners nie binne 24 uur bereik kan word nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner sal die prys verbeur.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media se webwerf en Facebook-blad bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Plaaslike en internasionale inskrywings word vir die aanlyn vertoning aanvaar.
  • Slegs plaaslike inskrywings sal vir die Karoo-boek oorweeg word. Lesers wat hiervoor in aanmerking wil kom, moet ʼn Suid-Afrikaanse adres verskaf.
  • Die versending van pryse word deur Karoo Suite hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.