Wen: Só vier Ruhan du Toit 30 jaar in musiekbedryf

Ruhan du Toit. (Foto: Francois Olivier)

Ter viering van Ruhan du Toit se drie dekades in die musiekbedryf stel hy in Julie ʼn album met splinternuwe musiek bekend, en twee gelukkige lesers kan ʼn eksklusiewe voorskou by Maroela Media se kantoor in Pretoria bywoon.

Vir die afgelope 30 jaar het Ruhan bekendheid verwerf vir die kragvertonings wat hy lewer. Met sy veelsydige vertolking van verskillende musiekgenres, wat oor ses tale en vier oktawe strek, is hy ewe tuis op ʼn internasionale verhoog as om ʼn bosveldvuur met ʼn handvol uitgesoekte gaste.

“Wat ʼn voorreg om so lank al deel van die Suid-Afrikaanse musieklandskap te wees,” sê Ruhan oor dié mylpaal.

“Terwyl ek nou ook bietjie nostalgies raak oor my lewenspad en al die draaie waarop dit my geneem het, kan ek nie help om terug te dink aan my eerste album wat in 1994 uitgereik is nie. Ek was 11 jaar oud en reg om die bedryf aan te pak. Dit was ʼn wonderlike pad met hoogte- én laagtepunte.”

Die Hemel is was sy eerste album en sedertdien het talle ander uitreikings gevolg: Mensekind (1995). I believe (1997). In 2000 volg Sound of Silence, ʼn duetalbum wat hy en sy broer, Jeanré, opgeneem het. Ruhan is steeds bekend vir dié lied se weergawe wat hy in 2016 op die Afrikaans is Groot-verhoog gesing het. Tot op hede het “The Sound of Silence” se musiekvideo groot sukses behaal en is dit al deur meer as 11 miljoen mense op YouTube gekyk.

Tien jaar ná sy eerste uitreiking het Ruhan en sy broer, Jeanré, in die top-20 geëindig van die talentkompetisie, Zing, wat op kykNET uitgesaai is. Daarna het hulle nog ʼn duetalbum, Langpad, in 2006 bekendgestel.

Ruhan du Toit en Deon van der Mewe van die musiekgroep, Touch of Class. (Foto: Facebook via Touch of Class)

In 2008 sien die album Sal ek jou kom haal die lig en in 2012 sluit hy by die musiekduo Touch of Class aan. Saam met sy medelid, Deon van der Merwe, bekoor hulle gehore orals waar hul gaan.

“Ek sal my herinneringe saam met Deon nooit vergeet nie en sal altyd dankbaar wees vir die aandeel wat hy in my loopbaan het,” sê Ruhan.

Monumentaal is die mees onlangse soloalbum uit Ruhan se pen. Die titelsnit en die liedjie se musiekvideo is in 2021 met ʼn Aitsa-toekenning bekroon. Hierdie liedjie word steeds wêreldwyd geluister en beklee die 58ste posisie op die Top-200 Suid-Afrikaanse albums wat gestroom word.

Nadat hy sy sololoopbaan hervat het, is Ruhan se kalender stampvol met ʼn gemiddeld van 200 vertonings per jaar.

Ruhan se vrou, Marinda, is die direkteur van Ruhan du Toit Music en saam maak hulle ʼn gedugte span. “Hy het lankal reeds die kuns bemeester om sy gehoor te lees en vir almal iets uit sy arsenaal van meer as 500 liedjies te bied,” meen Marinda.

Volgens haar is dit die kombinasie van reuse-musikale verwerkings, spontane energie en die spesiale oomblikke as nét sy stem en kitaarspel ten toon gestel word. “Dit is wat aanhangers na nog meer van Ruhan se musiek laat smag.”

Kaartjies vir Ruhan se vertonings op 23 Julie by die Atterbury Teater kos R250 (prys onderworpe aan verandering). Dit is op Seatme beskikbaar.

Skryf in

Twee gelukkige Maroela Media-lesers staan die kans om elkeen ʼn dubbelkaartjie vir die eksklusiewe voorskou van Ruhan du Toit se jongste album te wen. Dié geleentheid word op 18 Julie by Maroela Media se kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied.

Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Donderdag 13 Julie om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit Donderdag 13 Julie om 23:45.
  • Wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self vir reis- en verblyfreëlings verantwoordelik.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.