Willemien & Philomène: Die Afrikaanse nooi met die Franse alter ego

Willemien Rust.

Die Franse taal is al só tuis op die tong van die Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Willemien Rust dat sy sonder moeite glip na haar sogenaamde alter ego, Philomène.

As kunstenaar skryf sy ewe gemaklik in albei haar hartstale. Sy het ʼn MA-graad in Frans verwerf aan die Universiteit van Pretoria en bied tans Franse lesse vir beginners asook gevorderde studente en universiteitstudente aan.

Sy reis ook na skole om leerders bloot te stel aan Franse musiek uit Kanada, Frankryk, België en Franssprekende Afrikalande.

Sy vertel sy het aanvanklik besluit om ʼn Franse gedaanteverwisseling te ondergaan wanneer sy in ʼn leeromgewing is en só is Philomène gebore.

“Aanvanklik ken jy nie al die nuanses van ʼn nuwe taal nie, maar later – ná jare se inspanning en studies – het Willemien en Philomène dieselfde persoon geword, want ek kan al myself so duidelik uitdruk in Frans. So vinnig soos wat ek ʼn ou grappie in Afrikaans kan maak, so vinnig kan ek hom nou ook in Frans maak. Die taal stap al ʼn lang pad saam met my.”

Willemien op reis in Frankryk.

Voor die inperking het sy gereeld na Frankryk gereis en hoop om binnekort weer die skoonheid van dié Europese land te kan aanskou. Sy beskou haarself as ʼn Frankofiel in murg en been.

“Frans is ʼn wêreldtaal wat ook in verskeie Afrikalande gepraat word. Universiteitstudente is deesdae baie geïnteresseerd in geleenthede wat in Afrika geskep kan word. Ek werk ook gereeld saam met ʼn Franse kitaarspeler wat van Wes-Afrika afkomstig is en geniet dit om kreatiewe skryfwerk in Frans te doen, soos om draaiboeke te vertaal.

“Ek vind aanklank by die Franse gemeenskap se nostalgie, die kaas en die wyn en die cliché van Frankryk waarby baie Afrikaners aanklank vind. Daar is egter ook ʼn moderne kant van die taal, veral met die nuwe soort Frans wat in Afrika gepraat word, wat ek baie interessant vind.”

Willemien was in die Afrikaanse trefferrolprent French Toast (2015) te sien as die Franse kelnerin. Sy het toevallig dié rol gekry toe die aktrise wat aanvanklik die rol sou speel, kop uitgetrek het.

“Die vervaardigers het van my te hore gekom en omdat ek Frans vlot kan praat, het ek die rol gekry. Ek het later vir hulle gesê ek is eintlik ʼn musikant en vertaler en het uiteindelik ʼn groot aandeel gehad in die vertaling van die draaiboek en was ook nou betrokke by die klankbaan.”

Haar moedertaal word egter nie vir een oomblik afgeskeep nie en verskeie Afrikaanse musiekprojekte waarby sy betrokke is getuig hiervan.

Willemien en die harpspeler Jude van der Wat het in 2016 die duo Oorgeklank gevorm en het die gedigte van Bibi Slippers se debuutbundel, Fotostaatmasjien, getoonset. Vier van dié snitte is aanlyn beskikbaar. Bibi se stem is ook te hoor op die snit “Outobiografie I”.

Willemien& is haar sogenaamde passieprojek vir Afrikaans en sy verduidelik die ampersand is ʼn simbool van die filosofie waarop haar musiek geskoei is. “Ek werk altyd saam met ander kunstenaars aan verskillende projekte. Ek hou daarvan om idees te deel en te kyk hoe ʼn mens jouself in ʼn groep kreatief kan uitdruk.”

Willemien as die Franse kelnerin in ‘French Toast’.

Sy het haar jongste Afrikaanse enkelsnit, “Venster”, tydens vlak vyf van die inperkingstydperk in Suid-Afrika begin skryf.

“Tydens vlak vyf het mense wêreldwyd uit vensters gestaar en Italianers het byvoorbeeld van hulle balkonne af gesing. Ek het gevind dat ek self ure voor die venster deurbring en ek het besef dat dit my anker. Ek kon daar my gedagtes laat gaan en as kunstenaar is dit vir my belangrik om daardie kopspasie te hê.”

Willemien en haar man, Arné, het kort voor die inperking die ouers geword van Isak, hulle eersteling. “Ek het soveel tyd met my klein babatjie voor ʼn venster deurgebring, waar ek hom gevoed en gesus het. Om uit te kyk na buite het vir my ʼn simbool geword van wonder en droom.

“Party dae het ek die buitelewe en die voëls en die bome en blare raakgesien en ander dae was ek bang en onseker oor die toekoms, en dit was asof ek net in die raam vas kon staar.”

James Frank Robb is verantwoordelik vir die perkussie en Mart-Marie Snyman vir die klavierverwerking. Die liedjie is eers in September verlede jaar voltooi toe die land in vlak drie van die nasionale inperking was.

“Terwyl die maatreëls weer begin verslap het en alles weer soort van na normaal kon terugkeer, het dit terselfdertyd gevoel asof die wêreld weer oorweldigend raak. Daar was amper weer ʼn verlange na die eenvoud van vlak vyf en toe dinge meer eenvoudig was en ons wêrelde kleiner geword het.”

Philomène.

Die musiekvideo is deur Jurgens Johannes Burger geskiet en vervaardig. Hy en Willemien het saam aan die konsep van die video gewerk.

“Ons het baie gewonder of ons vir Isak by die video wil insluit en het besluit om hom op ʼn baie subtiele manier deel te maak daarvan. Hy was so groot deel van die jaar en my ervaring van die inperking.”

Daarom dra sy die liedjie ook aan moeders op. “Ek het toevallig ‘n dubbele dosis ‘grendeltyd’ ingekry verlede jaar met Isak se geboorte net voor die inperking en ek het besef die uitdagings en die wonder van kraamverlof en vlak vyf behoort baie eenders te wees.”

Wanneer sy oorweldig raak deur die wêreld, skuif sy voor haar klavier in. “Kuns en musiek maak is vir my ʼn absolute noodsaak. Daar is niks anders wat my dryf nie en ek kan eintlik nie funksioneer as ek nie skeppend is nie.”

“Venster” verskyn in haar kortalbum getiteld Van toe tot nou en sy verduidelik dat Willemien en Philomène hiér uiteindelik een geword het. Die album is onder die naam Philo_Mien uitgereik.

“Hoe ouer ek word, hoe meer sukkel ek om myself in ellelange lirieke uit te druk. Die liedjie het baie ‘ooh’s’ omdat ek spasie wil laat vir die luisteraar om na te dink oor verlede jaar en hulle eie interpretasie te vorm. Ek hoop mense kan iets in die liedjie vind wat by hulle resoneer.”

“Venster” is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Volg haar op Facebook en Instagram of kontak haar by [email protected].

Kyk hier na die musiekvideo vir “Venster”:

Kyk hier na ‘n Franse lied deur Philomène en Machiel Roets uit French Toast:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.